Local newsNews

Mookgophong trots op dié oulike ‘uber-idee’

Mookgophong het deesdae sy eie “uber” en Marcus Volschenk is die trotse eienaar van dié unieke sakeonderneming.

Hy het ’n trapkarretjie met die hulp van ’n vriend gebou.

Volschenk het aan Die Pos vertel alles het begin toe hy by familie in Marble Hall gewoon het.

“Ek het vir die tannie al haar tuisgebak, asook my tuisgemaakte biltong, gesmous. Ek het eers te voet deur Marble Hall geloop en die produkte van die hand gesit en ook twee keer per week Groblersdal toe geryloop om ons produkte te gaan verkoop. Ek het begin dink om ’n sleepkarrretjie te kry, maar mense het my afgeraai en gedink dit is ’n simpel idee,” het hy laggend gesê.

Nadat hy eendag baie hard van sy fiets afgeval het, het hy besluit om daad by die woord te sit en te begin bou aan sy karretjie-idee.

“Ek het dieselfde aand geryloop na Mtunzini in KwaZulu-Natal waar my ouers gewoon het. Daar het ek my eerste sleepwa en fiets gebou,” het hy trots vertel.

Sy ouers en broer het na Middelburg in Mpumalanga verhuis, maar hy het in Richardsbaai agtergebly waar hy vir hom ’n mobiele biltongwinkel gebou het.

Hy het fluks op Saterdagmiddae ná werk rondgery en tuisgemaakte biltong verkoop. Volschenk het landwyd al baie draaie gemaak.

’n Familielid het hom genooi om in Mookgophong te gaan kuier. Dit was in 2009 en hy “kuier” nog steeds op die dorp, vertel hy. Daar het hy nog ’n karretjie gebou vir sy smousery. Hy het die karretjie kunstig versier en het sy oom se lemoene aan die gemeenskap op dié manier verkoop.

Volschenk het onlangs besluit om met die hulp van ’n vriend ’n “riksja-waentjie” te bou.

“Dit gaan nie net om myself nie. My hoop is om ’n voorbeeld te stel aan ander om planne te beraam en self ’n inkomste te verdien,” het hy gesê.

Hy beplan om ’n hele vloot van die fietse te bou wat passasiers of goedere kan vervoer. Wanneer al hierdie karretjies klaar gemaak is, wil hy dit gaan demonstreer en uitstal by ’n groot ekspo wat jaarliks by Diamond Valley naby Rayton gehou word.

Hy sê dat die doel van die ekspo is om verskillende projekte aan die besoekers te toon wat nie met elektrisiteit of brandstof werk nie.

“Dit is te laat om vanjaar alles klaar te kry, maar ek hoop om aanstaande jaar al my voorbeelde klaar te hê,” het hy opgewonde vertel.

Intussen vervoer hy bejaardes om inkopies te gaan doen of hy hanteer gewone aflewerings.

Related Articles

Back to top button