Local newsNews

Dié groep vroue se harte is op die regte plek

Helpende Hand se Hartklop-mammagroep in Mookgophong het op Donderdag 9 September ’n heerlike kos-en-wyngeselligheid by Diamond Creek Bush Lodge aangebied.

Die vroue is getrakteer op ’n heerlike driegangmaaltyd en verskillende wyne wat die disse se geur en smaak goed aangevul het, is voorgesit.

Die fondsinsameling was ten bate van die Hartklop-mammagroep se bedrywighede en ondersteuning aan die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool.

“Hierdie groep mammas is die afgelope drie jaar reeds besig om ’n verskil in hul eie skoolomgewing te maak,” het Marianthie Botha, streekhoof vir Limpopo, aan Die Pos gesê.

Helpende Hand het takke regoor die land wat ’n verskil in hul eie gemeenskappe probeer maak deur saam te staan en nood in hul onmiddellike omgewing aan te spreek.

Daar is twee takke in Mookgophong, die Hartklop-mammas, wat hoofsaaklik fokus op hul eie skool en die Naboomspruit-tak, wat nog ’n groep vrywillige vroue is wat projekte in die wyer gemeenskap aanbied.

Hulle fokus is op skoolkinders en bejaardes. Mookgophong het ook ’n studiefonds wat die afgelope paar jaar 20 studente vanuit die omgewing met rentevrye studielenings ondersteun het.

Die geraamde waarde van hierdie studielenings beloop bykans R1 miljoen. Helpende Hand se hooffokus is om armoede te verlig, verbreek en te voorkom.

“In ons verskillende gemeenskappe spreek ons ook meer as net fisieke armoede aan en probeer projekte onderneem wat die moraal van gemeenskappe lig en nie uitsluitlik vir behoeftige mense is nie,” het sy gesê.

Die dorp is ook gekies as een van 12 dorpe landwyd waar in-diepte-gemeenskapsanalises onderneem word om te bepaal watter behoeftes daar werklik in ’n gemeenskap is en sodoende holistiese programme saam te stel vir ontwikkeling en ondersteuning.

Mookgophong het voldoende terugvoer vanuit die gemeenskap ontvang en Botha is tans besig om die dorp se spesifieke verslag saam met ’n span saam te stel.

Die nood is oral groot, maar sy meen deur samewerking kan daar ’n daadwerklike en blywende verskil gemaak word.

“Gemeenskappe regoor die land bewys keer op keer hoeveel krag daar lê in gemeenskappe wat saamstaan. Die onsekerhede en uitdagings wat ons almal tans in die gesig staar, kan vreesaanjaend wees, maar dis geen rede tot moedeloosheid nie. Daar is nog baie hoop en nog meer om in te glo. Ons gaan nie opgee nie. Ons gaan aanhou om die weerloses te ondersteun en aanhou om die hande hoog te hou van dié wat saam met ons ’n verskil wil maak,” het sy vasberade gesê.

Vrywilligers kan haar bel by tel. (012) 111 8360 of tel. 082 741 7858. Stuur ’n e-pos aan marianthie@helpendehand.co.za(.) Besoek gerus hul Webtuiste: www.helpendehand.co.za(.)

Related Articles

Back to top button