Local newsNews

AfriForum maak terrein sélf skoon

Lede van AfriForum en buurtwaglede in Mookgophong het op Saterdag 11 September die onwettige vullisstorting by die ou spoorwegstasie opgeruim.

Die terrein was ’n seeroog in die dorp.

Die terrein behoort aan Transnet, maar word nie in stand gehou nie. Die plaaslike munisipaliteit het groot vullishouers daar geplaas om die strooi van rommel te bekamp.

Dit het egter tot gevolg dat onbekende mense telkens die houers aan die brand gesteek het en sakeondernemings in die omgewing word gereeld oorval deur digte rook en gas wat van die brandende plastiek kom.

Dié foto wys hoedat die terrein nou daar uitsien.

’n Versoek is reeds in Julie deur AfriForum aan die munisipale bestuurder gerig om die vullishouers te verwyder, wat hulle wel op Maandag 6 September gedoen het. Die terrein is egter nie opgeruim nie.

“Dit is die munisipaliteit se plig om dié terrein, en die res van die dorp, skoon en in stand te hou, maar hul onvermoë en onbekwaamheid om behoorlike diens te lewer noop ons om self in te spring. Baie mense het al gesê hulle betaal belasting; hoekom moet hulle nog die munisipaliteit se werk ook doen?”

het Lucas Bornman, nuutverkose voorsitter van AfriForum in Mookgophong, aan Die Pos gesê. Volgens Bornman beplan AfriForum nóg projekte om die munisipaliteit te dwing om dienslewering te verbeter.

Die opruiming was die inisiatief van Kobus van Loggerenberg, leier van die plaaslike buurtwag. Van Loggerenberg het gesê hy hoop dié projek sal die munisipale bestuur en amptenare laat besef dat hulle in gebreke bly om vir inwoners diens te lewer.

“Ons dank aan plaaslike sakelui André Joubert vir die gebruik van sy laaigraaf en Gerhardus Brits wat ’n vragmotor beskikbaar gestel het. Hartlike dank aan die AfriForum-buurtwaglede wat kom hand bysit het. “AfriForum is ’n nie-winsgewende organisasie met die hoofdoel om die grondwetlike regte van sy lede en gemeenskappe waaraan hierdie lede behoort te beskerm. Ek wil graag ’n beroep doen op die gemeenskap om betrokke te raak deur aan te sluit by AfriForum en dienste aan te bied in enige van die portefeuljes.

Belangstellendes kan Lucas Bornman bel by tel. 083 647 0530 of Carel Engelbrecht by tel. 073 316 8843 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button