Local newsNews

VLU dien gemeenskap met liefde

VLU-Noord se Northam-tak is in die Thabazimbi-omgewing bekend as ’n groep vroue wat sedert hulle stigting in 1995 ’n groot hart vir die gemeenskap het.

Die VLU is gefokus daarop om die verlede te eer, die hede te vier en die toekoms te omhels en vanjaar voer hulle al hul projekte uit onder die tema: “Koester en bewaar.”

Dit is ook hierdie tema wat dié groep vroue onlangs geïnspireer het om deel te word van die dorp se Bome van Hoop-projek (BHP).

“Ons is deel van verskeie projekte waarmee ons die gemeenskap help bou en daarom was dit vir ons ook belangrik om betrokke te raak by die BHP,” vertel Chantelle Steynberg van VLU se Northam-tak.

“Ons lede het baie hard gewerk om geld en kos in te samel wat ons aan dié projek geskenk het.”

Die VLU het ook vragte vol nie-bederfbare voedselprodukte aan Thabazimbi Feed the Poor (TFTP) geskenk. Dié plaaslike organisasie samel kos vir minderbevoorregte en verwaarloosde kinders in die dorp in. TFTP het in Mei 2012 ontstaan toe ’n paar vroue in die gemeenskap die nood raakgesien het en deesdae verskaf hulle daagliks kospakkies aan ongeveer 100 kinders in en om Thabazimbi.

Liza Yssel, verteenwoordiger van die BHP in Thabazimbi, het haar dank uitgespreek aan die VLU en TFTP vir die werk wat hulle in die gemeenskap doen.

“Ons is so dankbaar dat Thabazimbi se mense en organisasies ons projek ondersteun,” het sy gesê.

“Daar is so baie mense wat deesdae moedeloos is, maar danksy skenkings soos dié van die VLU sien mense weer kans vir die toekoms.”

BHP skop ook eersdaags hul Thabazimbi Animal Rescue (TAR)-projek af.

Vir inligting oor skenkings bel gerus Yssel by tel. 084 500 4485. Skenkings van koerantpapier, plastiese sakke, ou beddegoed en handdoeke kan daagliks afgelewer word by Busicor Dierewinkel in die dorp.

Die Bome van Hoop-vrywilligers moedig inwoners van Thabazimbi aan om betrokke te raak by die projek.

Related Articles

Back to top button