Local newsNews

Plaaslike skoonheid met ’n groot hart

“Selfvertroue is al wat ’n vrou nodig het om mooi te wees.”

Só sê die 21-jarige Claudia Pita Ferreira. Dié jong model van Swartklip, net buite Thabazimbi, is as finalis in die Mnr. en Mej. Waterberg-distrikskompetisie 2021 aangewys.

As boorling van Swartklip het sy nog altyd ’n hart vir die gemeenskap gehad en deesdae leef sy dié liefde in haar modelwerk uit.

“Almal verdien ’n tweede kans,” vertel sy. “Soms het iemand net ’n klein bietjie hulp nodig om hul omstandighede te verander en as almal saamstaan kan ’n mens die wêreld verander.”

Sy is tans besig met voorbereidings vir die Waterbergdistrik-skoonheidskompetisie wat in Oktober in Bela-Bela plaasvind.

Claudia Pita Ferreira, ’n boorling van Swartklip en finalis in die Mej. Waterberg-distrikskoonheidskompetisie, wil graag ander mense inspireer om betrokke te raak by liefdadigheidsprojekte in hul omgewing. Sy het haar gewig ingegooi by die Thabazimbi Homeless Shelter (THS) en sal voortaan deel wees van hul veldtogte. Foto: Verskaf

Ferreira het aan Die Pos gesê sy wil graag hierdie platform gebruik om mense in nood te help en daarom het sy vroeër vandeesmaand by die Thabazimbi Homeless Shelter (THS) aangeklop om haar hulp aan te bied om dié verdienstelike organisasie uit te bou en ander lede van die gemeenskap te inspireer om ook deel te word van die ondersteuningsnetwerk van THS.

“Skoonheidskompetisies is lankal nie meer net vir mooi gesiggies nie,” vertel Beverley Spira Kühn van die THS.

“Om deel te wees van só ’n kompetisie gee modelle ’n geleentheid om ’n verskil te maak in hul omgewing en daarom is ons baie dankbaar dat Claudia besluit het om hier by ons organisasie betrokke te raak.”

Spira Kühn het gesê dit is vir haar wonderlik om te sien hoe jongmense in Thabazimbi weer begin opstaan om hul gemeenskap te bevorder en sy hoop dat die voorbeeld wat Ferreira stel, jonk en oud sal aanmoedig om diegene wat in nood verkeer, te ondersteun.

“Claudia sal die volgende paar maande betrokke wees by verskeie fondsinsamelings en bewusmakingsveldtogte by die THS en ons is baie opgewonde om te sien wat sy bereik.”

Ferreira se afrigter, Peter de Beer, het op sy beurt vertel dat hy baie trots is op haar.

“Toe Claudia ’n paar jaar gelede by ons agentskap aangesluit het, was sy ’n stil, teruggetrokke kind, maar sy het in ’n dinamiese jong vrou ontwikkel,” het hy gesê.

“Sy is voorwaar ’n mooi mens van binne en buite.” Ferreira is tans besig met ’n graad in rekeningkunde by MSC Business College in Rustenburg. Sy moet dus ’n besige program as model kombineer met die vereistes wat haar studies verg. “Ons is baie trots op Claudia en glo sy sal die beste kandidaat wees vir Mej. Waterberg — nie net omdat sy mooi is nie, maar omdat sy as ware filantroop en as toegewyde student bewys het dat harde werk, omgee en liefde ’n mens ver in die lewe kan bring,” het De Beer gesê.

Vir Ferreira is skoonheid nie bloot ’n uiterlike bate nie, maar eerder die weerspieëling van ’n mens se innerlike waardes en norme.

Respek en liefde is twee basiese boustene wat haar in staat gestel het om reeds so vroeg in haar loopbaan as model diep spore in dié bedryf te trap.

Related Articles

Back to top button