Local newsNews

Plaaslike boere skitter by jaarlikse kongres

TLU SA het vanjaar op Woensdag 1 September hul kongres by die Roedtan-Suid-boeresaal gehou met verteenwoordigers van al die unies.

Die Potgietersrus DLU het met vyf trofeë weggestap.

“Ons is trots daarop dat ons unie steeds uiters doeltreffend was ondanks al die uitdagings van die Covid-19-pandemie,” het Floris Booysen, voorsitter van die DLU, gesê.

Volgens hom het die landbouers hande gevat om die talle uitdagings in die landbousektor te oorkom.

Samewerking het verbeter en die DLU is veral trots op die veiligheidstrofeë wat aan hulle toegeken is.

Die DLU het die afgelope jaar 22 kameras op paaie opgerig wat befonds is deur die plaaslike landbougemeenskap. Die radiostelsel en noodvoertuie is ook uitgebrei en suurstofmasjiene is gekoop.

Die DLU het die sleutelpersone aan die stuur van sake in die veiligheidsafdeling — Floris Booysen, Hendrik Botha, Wynand le Grange, Hendrik de Swardt en Martin de Freitas — spesiaal bedank vir hul insette en harde werk.

Die trofeë wat die DLU verower het, sluit in die landelike veiligheidstrofee (Potgietersrus DLU), die beste boerevereniging (Roedtan-Suid-boerevereniging), beste DLU-tak (Potgietersrus DLU), beste sekretaris (Renita Prinsloo van die Potgietersrus DLU) en beste jongboer-betrokkenheid (Lukas Eksteen van die Potgietersrus DLU).

Verco Energy het tydens die kongres aangekondig dat hulle, in samewerking met TLU SA, voortaan diesel teen goedkoper pryse aan lede beskikbaar sal stel. Dit het ’n spontane toejuiging uit die gehoor ontlok.

Lede in groot dele van die Oos-streek (Mpumalanga), sentraalstreek (Gauteng) en dele van die noordstreek (Limpopo) en Vrystaat sal van hierdie aanbod gebruik kan maak.

Lede sal 45c per liter minder betaal en TLU SA sal ’n rabat van 20 c per liter ontvang.

“Boere is onder geweldige druk met die voortdurende styging in insetkoste van brandstof en kunsmis. Ons onderhandel daagliks met diensverskaffers om boere se voortbestaan te verseker. TLU SA is dankbaar vir diensverskaffers wat besef hoe belangrik die hele waardeketting vir die voortbestaan van landbou is,” het Henry Geldenhuys, president van TLU SA, gesê.

Henry Geldenhuys en Wannie Scribante is tydens die kongres weer eenparig in hul ampte as president en adjunk-president verkies. Geldenhuys het lede bedank vir die vertroue wat hulle in hom gestel het en beloof om landbou altyd as eerste prioriteit te stel.

Related Articles

Back to top button