Local newsNews

‘Beskermengel’ werk oortyd ná swartmamba 4-jarige byt, sê ouers

Wat ’n rustige familiebyeenkoms moes wees het amper in ’n tragedie ontaard toe die vierjarige Jaco Terblanché op Saterdag 4 September deur ’n jong swartmamba gebyt is.

Die voorval het op Paul en Fina van Deventer, Jaco se grootouers, se kleinhoewe net buite Modimolle plaasgevind toe hy en sy twee sussies in die sitkamer gespeel het.

Marinique Terblanché, Jaco se ma, het vanaf Thabazimbi by haar ouers gekuier toe hulle die kinders omstreeks 13:00 vanuit die sitkamer hoor skree het dat hulle ’n slang tussen die speelgoed gesien het. Ná ’n soektog van ongeveer 10 minute het hulle op die jong swartmamba afgekom.

Die slang is dadelik verwyder en vankant gemaak. Hulle het aanvanklik nie besef die slang het een van die kinders gebyt nie, maar sowat 20 minute later het Jaco begin sleg voel. Terblanché het hom ondersoek en ’n enkele bytmerk aan sy regtervoet opgemerk wat toe reeds opgeswel was.

Fina het tydens ’n onderhoud aan Die Pos vertel sy het dadelik hul huisdokter in Modimolle gebel vir hulp, maar daar was geen teengif vir slangbyte in voorraad by hul spreekkamer nie. Hy het aanbeveel dat hulle dadelik na die Podi Clinic in Bela-Bela gaan. Intussen het hulle verneem dat die Podi Clinic ook nie die nodige teengif in voorraad het nie.

Terblanché het vertel dat hulle by ’n tweede dokter in Modimolle om hulp aangeklop het. Dié dokter het vermoed ’n perdeby het eerder die kind gesteek en antihistamien ingespuit.

Intussen het Paul vir Theunis Victor, plaaslike slangkenner van Modimolle, gebel om die slang te identifiseer sodat die korrekte teengif toegedien kon word. Victor het bevestig dat dit ’n jong swartmamba was en vir Arno Naudé, bekende slangkenner van Snake Bite Assist, gevra om telefonies raad te gee totdat hulle by ’n hospitaal uitkom.

Toe Jaco se simptome ná twee ure erger geword het, het die familie vir Naudé om raad gevra. Jaco was toe reeds baie lomerig, sy lyf het gebewe, hy het lae suurstofvlakke, uitermatige sweet en braking gehad.

Volgens Naudé is ’n swartmamba se gif neurotoksies wat uiteindelik al die spiere in die liggaam verlam. Sodra gif die diafragma en longe bereik, kan die persoon nie meer asemhaal nie en sterf hulle aan asemnood. In sommige gevalle kan die persoon breindood verklaar word omdat te min suurstof die brein bereik.

Die familie het intussen ’n ambulans ontbied wat omstreeks 16:00 vir Jaco in Modimolle opgelaai het.

Naudé vertel dat hy dadelik sy stiefdogter, Charlene Gebhardt, ’n opgeleide paramedikus met uitgebreide ondervinding van slangbyte, in Pretoria gebel het om te help. Sy en haar ma, Heidi Pfeifer, het dadelik in haar motor vertrek om die ambulans by die Carousel-tolhek op die N1-snelweg te ontmoet.

Nadat sy verskeie hospitale in Pretoria gebel het, kon Netcare Unitas-hospitaal in Centurion bevestig dat die nodige teengif beskikbaar is. Teen die tyd dat Gebhardt die ambulans bereik het, kon sy sien dat Jaco in ’n kritieke toestand was.

“Sy tong het gesleep en sy ooglede het gehang wat beteken het die gif was besig om vinnig te versprei,” het sy gesê.

Haar ma het haar motor terug bestuur terwyl sy agter in die ambulans by klein Jaco gebly het. Sy het hom deurgaans noukeurig gemoniteer totdat hul omstreeks 17:30 by die hospitaal aangekom het waar die noodgevallespan gereed gestaan het om die teengif toe te dien.

Hy het altesame nege ampules teengif ontvang en moes in die hospitaal oornag. Terblanché vertel dat haar seuntjie die volgende dag ongeduldig geraak het omdat hy nie kon buite speel nie.

Hy is Sondagmiddag ontslaan waarna die gesin in ’n gastehuis naby die hospitaal oornag het vir ingeval sy toestand versleg.

Teen Maandag 6 September het dit fisiek en emosioneel goed gegaan met hom. Sy ouers en grootouers bedank almal wat betrokke was en die gesin bygestaan het in hierdie krises.

“Daar was beslis ’n leerskare engele aan die werk,” het hulle aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button