Local newsNews

Vroeë reën sak oor die Waterberg uit

Die Waterberg-omgewing het op Donderdag 26 Augustus onverwags ’n heerlike bui reën gekry.

Dit is goeie nuus vir boere wie se winterweiding die vorige week in die slag gebly het tydens erge veldbrande in die omgewing.

Volgens inligting van die Waterberg DLU was die gemiddelde reënval verlede week tussen 5-22 mm in Bela-Bela. In die Mabula-omgewing het boere tussen 5-12 mm aangeteken en in Modimolle het 5-30 mm reën geval.

Die reën het gevolg ná ’n skielike kouefront wat die Suid-Kaap verlede week getref het en swaar sneeustorms tot gevolg gehad het.

Die kouefront het bibberweer oor groot dele van die land veroorsaak en die vogtige lug het wydverspreide reën laat val. Die reënweer het met donderstorms en plek-plek swaar hael gepaard gegaan.

Volgens Daleen Steynberg, sekretaresse van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), is daar verlede Donderdag verskeie klagtes ontvang van inwoners wat onderbreking in kragtoevoer ondervind het. Tegnici het hul hande vol gehad om op al die probleme te reageer.

Swaar weer het hulle ook verhoed om aan elektriese pale te werk. Steynberg het gesê sy het klagtes ontvang uit Bospoort, Roodepoort, Noodhulp, Fish Eagle Bay, Malebone en Zwartkloof.

Hierdie gebiede ondervind gereeld diensleweringsprobleme. Sy het aan Die Pos gesê sy het die afgelope maand ongeveer 56 munisipale diensleweringsklagtes ontvang.

Teen druktyd was daar dele van die dorp wat steeds kragtoevoer probleme ondervind het.

Steynberg het bygevoeg dat sy voortgaan om klagtes by die munisipaliteit op te volg, asook om nuwe klagtes wat op die amptelike munisipale Whatsapp-klagtegroep geplaas word, aan die betrokke munisipale amptenare oor te dra.

Die Pos het navrae aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gerig oor die uitdagings wat die tegniese afdeling, asook die munisipaliteit se kliëntedienssentrum, tans ervaar, maar hy het teen druktyd geen antwoorde verskaf nie.

Die nasionale weerdiens het intussen aangedui dat Suid-Afrikaners vanaf Saterdag 28 Augustus meer gunstige weerstoestande kan verwag.

Related Articles

Back to top button