Local newsNews

Reuse-ooruile kuier in Mookgophong-tuin

Twee reuse-ooruile (Verreaux’s Giant Eagle Owls) het hulle in ’n boom in 5de Straat in ’n woonbuurt in Mookgophong tuisgemaak.

Die Swanepoel-egpaar, Freek en Gerda, was baie in hul skik om hierdie uile in hul groot jakarandaboom te gewaar.

“Dit is baie raar om die grootste uilspesie in Afrika in hierdie omgewing te sien. Sedert ons in November 1985 hier ingetrek het, het ons al verskeie dierebesoekers in ons tuin gesien. Hier was al ’n blouaap, ’n volgroeide bobbejaan, ’n knewel van ’n likkewaan, verskeie slange, ’n muskeljaatkat en nou die uile,” het Freek opgewonde gesê.

Die een uil is die eerste keer in Junie 2019 in die boom opgemerk. Volgens Freek het die uil in die lente vertrek, maar in 2020 was hy weer terug.

“Ongeveer twee maande gelede het ons weer die kenmerkende geluide gehoor en ek het met die flits gaan kyk en tot my verbasing het ek nie net een nie, maar twee uile in ’n groot apiesdoringboom in ’n erf oorkant die straat gesien,” het hy vertel.

So ’n paar dae daarna het hy die twee uile in die jakarandaboom in hulle erf gesien. Die Swanepoels hou hul gedrag en bewegings fyn dop. Hulle het soms baie naby bymekaar in die boom gesit.

Marina Gravett, ’n geesdriftige voëlkyker, het foto’s van die pragtige uile gaan neem. Sy sê ’n kenmerkende eienskap waaraan hulle uitgeken kan word, is die pienk skynsel bokant hulle oë. Dit lyk kompleet asof die uile ooggrimering dra.

Reuse-ooruile vreet wilde voëls soos tarentale en kleiner soogdiere soos hase, maar kan selfs groter diere soos blouape vang. Hulle het ook ’n bekende roep en Freek het vertel dat dit snags soos musiek in hul ore klink.

Die wyfie lê gewoonlik twee eiers waarvan die eerste kuiken gewoonlik oorleef en die ander een binne twee weke vrek van die honger, aangesien die eerste kuiken al die kos vreet. Die oorlewende kuiken verlaat die nes ongeveer twee maande nadat hy of sy uitgebroei het.

Hoewel hulle nagdiere is, begin hulle reeds vroegaand kos soek.

Die reuse-ooruil is ’n lid van die familie Strigidae en is die grootste uilspesie in Afrika en derde grootste in die wêreld.

Die wyfie is groter as die mannetjie en weeg ongeveer 3 kg en het ’n vlerkspan van 1,5 meter. Hierdie uile is ’n bietjie lui en sal maklik ander voëls se neste oorneem eerder as om self te bou.

Hulle kom meestal in KwaZulu-Natal, die Laeveld in Mpumalanga, die grens tussen Limpopo en Botswana en in die Kalahari-gedeelte van die Noord-Kaap voor.

Reuse-ooruile is ook in 2017 en 2018 by Die Oog-aftreelandgoed buite die dorp opgemerk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button