Local newsNews

Hardebaardmanne met harte van goud

Die inwoners van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle het op Saterdag 28 Augustus gejil van opwinding toe die brullende enjinklanke van bykans 70 motorfietse die oggendlug gevul het.

Die rede vir die groot vreugde is die jaarlikse besoek van die Hell’s Angels-motorfietsklubs.

Hulle besoek bring nie net vreugde aan die inwoners nie, maar die milde skenkings aan die kinderhuis, wat hierdie keer ’n paar bakkievragte vol was, bied ook gemoedsrus vir die bestuur en personeellede wat na die kinders omsien. Altesame 500 kg mieliemeel is by die saal afgelaai.

’n Vrag vars lemoene en botterskorsies is ook afgelewer. Daar was ook 120 l langlewemelk, teesakkies, kitskoffie, suiker, koeldrank, vrugtesapkonsentraat en lekker koekies en sjokolade.

Die grootmaatkoekmeel wat ontvang is, sal gebruik word om vir die inwoners heerlike tuisgebakte disse te voorsien.

Die kinderhuis se spens kan nou weer spog met geblikte sop, ander blikkieskos, rys, pasta, kookolie en heelwat nie-bederfbare kosprodukte in voorraad. Die verskeidenheid skoonmaakmiddels het ook waspoeier, besems en moppe ingesluit wat aan elke huishouding op die terrein voorsien sal word. Die toiletware is altyd ’n welkome geskenk en van die jonger inwoners het selfs ’n teddiebeer of sagte kombersie ontvang om hul harte verder te verbly.

Volgens Marlene de Villiers, bemarker van die kinderhuis, is 120 dosyn eiers vooraf by die kinderhuis afgelewer.

Daar is ook meer as 500 kg wildsvleis op Dinsdag 31 Augustus geskenk as deel van die motorfietsklubs se uitreikveldtog. Steve Coetzee, president van die Hell’s Angels-motorfietsklub in Witbank, het aan Die Pos vertel hy is bewus gemaak van die kinderhuis se benarde situasie deur Basie Smit, jarelange eienaar van ’n bekende kuierplek in Roedtan wat gewild is onder motorfietsryers.

Na afloop van hul gesprek het Coetzee die daad by die woord gevoeg en met Mark Mann van die Hell’s Angels-klub in Pretoria gepraat om die veldtog te loods en die oorhandiging te koördineer.

’n Emosionele Smit het aan Die Pos vertel dat hy diep dankbaar is toe hy sien hoe die saadjie wat hy gesaai het tydens sy gesprek met Coetzee groei en soveel vrugte afgewerp het.

Hy hoop om in die toekoms ook donasies van groot kettingwinkels vir die kinderhuis se koskaste te bekom.

Motorfietsryers van verskillende klubs in die Waterberg en Gauteng het saamgewerk om hierdie donasies moontlik te maak. Glen Maritz van Modimolle, wat deel is van die MAC’s-motorfietsklub, het gehelp met logistieke reëlings. Ander klubs wat ook die veldtog ondersteun het, is die Ghost Riders van Mokopane en Polokwane, Bugz-klub van Gauteng, die Crusaders van Gauteng en Dogs of War van Pretoria.

Nadat al die items in die kinderhuis se saal gepak is, het die kinders die geleentheid gekry om agter op die ysterperde te ry.

Vir die jonger kinders was daar ’n spesiale waentjie wat agter ’n motorfiets gesleep is. Die uitbundige gelag het oor die perseel opgeklink en almal was dit eens dat hierdie dag nie gou vergeet sal word nie.

Al lyk dit dalk nie op die oog af so nie, het hierdie hardebaardmanne harte van goud.

Related Articles

Back to top button