Local newsNews

Dis heerlike lente!

Met die draai van die seisoen het die bruidjie van die Bosveld haar sluier oor haar kop getrek en Thabazimbi-inwoners kon weer begin uitsien na die unieke kleur en klank van ’n Bosveld-lente.

Die Pos het gaan kers opsteek by Deidré van den Berg, een van die dorp se bekendste bloemiste en plantkenners, om raad te kry oor die nuwe seisoen wat voorlê.

“Die Bosveld, soos die mense wat hier woon, beweeg teen sy eie tempo,” het Van den Berg gespot.

As die lente aanbreek, begin die koraalboom blom, die witstinkhoutbome loop uit, die arm-mans-orgidee (bauhinia) kleur die dorp se strate helder pienk in en die drolpeer (bruid van die Bosveld) stoot natuurlik ook haar spierwit blommeruikertjies uit.

Deidré van den Berg, be kende bloemis en plantkenner van Thabazimbi, gee raad vir jou tuin voor die aanvang van die nuwe groeiseisoen.

Vir Van den Berg is dit juis dié verskynsels wat ’n Thabazimbi-lente so uniek maak.

“Die lente begin gewoonlik teen 15 Augustus, maar anders as op ander plekke in die land, vind die oorgang nie geleidelik plaas nie,” verduidelik sy.

“Dit is amper asof jy een oggend jou deur oopmaak en dan is dit skielik warm. Ons het ook nie vier seisoene in die volle sin van die woord nie, want dit word baie vinniger warm hier by ons.”

Thabazimbi se temperatuur verskil drasties van die omliggende dorpe s’n, wat oor die algemeen ’n savanna-klimaat is.

“Omdat ons dorp hier tussen die Ysterberge lê, kan dit selfs partykeer ’n bietjie tropies wees.”

Juis as gevolg hiervan raak dit soms moeilik om te besluit presies wat jy in jou tuin kan plant om deur die draai van die seisoen én die res van die jaar ’n mooi tuin te hê. Vir Van den Berg is die antwoord doodeenvoudig: “Plant inheems.”

“Die Bosveld-plantegroei is ongelooflik goed aangepas in Thabazimbi,” het sy vertel. “Ons het besondere koue dae, en dan het ons snikhete weke wat verbygaan en die plante moet self daarby aanpas.” Wat inwoners se tuinmaak-opsies ook aansienlik minder maak, is die feit dat Thabazimbi ook dikwels gebuk gaan onder drastiese watertekorte. Juis daarom raai Van den Berg inwoners aan om hul tuine sover moontlik “waterwys” te maak.

“As jy regdeur die jaar ’n mooi tuin wil hê, moet jy goed navorsing doen. Gaan maak ’n draai by een van die plaaslike kwekerye en vra vir ’n kenner wat in jou tuin sal aard,” is haar raad.

“Tuinmaak is terapeuties en daar is baie emosies betrokke by tuinwerk. Jou tuin is ’n uitbreiding van jou huis en jouself en jy kan dit mooi hou.”

Suid-Afrikaners vier ook jaarliks in dié tyd Boomplantweek en in die Bosveld spog ons met van die mooiste en mees majestueuse bome in die land.

“Wanneer ’n mens daaraan dink om bome te plant, is dit ook belangrik om in gedagte te hou wat eie aan ons omgewing is,” maan Van den Berg.

Deur die jare het daar ’n debat ontstaan oor watter boom nou eintlik die “boom van die Bosveld” is, maar hoe dit ook al sy, wanneer dit kom by die plant van bome volg Van den Berg haar eie goue reël en plant inheems.

“Om te vra watter boom is die boom van die Bosveld, is soos om te vra vir watter een van jou kinders jy die liefste is,” skerts Van den Berg.

“Die boere gaan vir jou sê dit is die swarthaak (senegalia), want hy kom oral voor. Diegene met ’n voorliefde vir doringbome sal vir jou sê dis die kameeldoringboom omdat dié boom so eg Suid-Afrikaans is en selfs in die Kalahari voorkom. Persoonlik is ek gek oor ’n kameeldoringboom soos dié een wat voor FNB-bank in die dorp se gebou staan,” antwoord sy.

“Drolpere staan bekend as die bruidjie van die Bosveld en staan daarom ook ’n kans om die titel te wen”.

Maroelabome is ’n ander boom wat die titel kan kry, want dié boom kom orals in die Bosveld voor.

Koorsbome, apiesdorings en anabome kom hoofsaaklik langs die riviere in die omgewing voor. Daar is ook verskeie vrugtebome soos sitrusbome, piesangbome, avokadopere, vye-bome, mango’s, lietsjies en makadamia-neutbome wat in die omgewing floreer.

Blomplante het ook oor die jare goed aangepas in die omgewing.

“Die Bosveld het nie spesifieke blomme wat eie aan die omgewing is nie,” vertel Van den Berg. “Ons het hier en daar inheemse blomme soos boslelies (clivias) wat baie mooi groei in Thabazimbi, maar wat blomme betref kan ’n mens maar sê dat Bosveldblomme aan die bome groei.”

“Onkruid het natuurlik ook sy eie mooi,” sluit sy af.

“Baie mense hou daarvan om kosmos, wat inderwaarheid ’n onkruid is, in hul tuine te los wanneer dit blom, maar ’n mens moet dit net mooi bestuur. Wees verantwoordelik as jy tuinmaak en moenie net plant omdat dit vir jou mooi is nie.”

Dis heerlike lente; tyd om jou snoeiskêr en tuingrafie nader te trek en jou weer te vergaap aan dié seisoen se Bosveld-bekoring. (Lees ook die berig met Van den Berg se tuinwenke elders)

Related Articles

Back to top button