Local newsNews

Wanhoop oor die ashoop

Die Donkerpoort-stortingsterrein het die afgelope paar jaar bekend geword as ’n reusekopseer vir die inwoners van Thabazimbi.

Inwoners kla al maande lank dat dié terrein, asook die stortingsterrein in Northam, drasties versleg.

Die Pos het einde April berig oor beoogde opknappings by dié stortingsterreine wat sou volg nadat die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (MRK) die terrein besoek en bevind het dat dit nie aan die voorgeskrewe standaarde voldoen nie.

Die situasie is egter steeds onveranderd en inwoners stuur al video-beeldmateriaal rond wat hul kommer oor die terrein beklemtoon.

“Dit het in Mei gelyk asof die stortingsterrein beter bestuur word, maar nou het alles weer verval,” het ’n plaaslike boer, wat anoniem wil bly, aan Die Pos gesê.

“Dit laat ’n mens wonder hoekom die terrein nie meer gereeld skoon gemaak word nie? Hoe kon die munisipaliteit dit slegs ’n paar maande gelede reggekry het en nou het dit alles weer verval?”

Thane Hearne, speaker van die Thabazimbi-munisipaliteit, het vroeër aan Die Pos gesê hoewel die munisipaliteit die erns van die saak besef en alles in hul vermoë doen, is die munisipaliteit se hulpbronne uiters beperk.

“Stortingsterreine wat reg bestuur word, moet voltyds in stand gehou word, maar die Thabazimbi-munisipaliteit beskik nie tans oor die masjinerie of voertuie wat nodig is om dit voltyds te doen nie,” het sy verduidelik.

Die munisipaliteit het intussen samesprekings met verskeie belanghebbendes begin om hul te vra omdat hulle nie in die geldelike posisie is om self masjinerie aan te skaf nie.

Marcelle Maritz, LP van die Vryheidsfront-Plus in Limpopo, het in reaksie gesê dié party het in die verlede verskeie kere probleme en klagtes oor die stortingsterreine aangemeld, maar die munisipaliteit bly traag om daarop te reageer.

“Die munisipaliteit het eers aandag geskenk aan die probleme nadat die MRK gedreig het om regstappe te neem,” het Maritz gesê.

Die munisipaliteit het intussen teen druktyd vandeesweek wéér met opruimingswerk begin.

Die Pos het die munisipaliteit om kommentaar genader, maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button