Local newsNews

Talle veldbrande saai verwoesting in Waterberg

Die sterk Augustuswind het die afgelope week verwoestende veldbrande, wat twee dae lank buite Mookgophong gewoed het, vererger.

Die eerste veldbrand het op Donderdag 19 Augustus tussen die R101-pad en die N1-snelweg buite Mookgophong ontstaan.

Die Grootvalley-kleinhoewes en plase in Mokopane se rigting het aan die brand geraak en hoewel boere en die brandweer probeer het om die vlamme te blus, was die wind ongenaakbaar en het die vlamme gou die De Brak-pad bereik.

Volgens Corné Pohl van die plaas Trados is daar nie sekerheid waar en hoe die brand ontstaan het nie.

“Dit het by ons gebrand terwyl die vlamme reeds hoog aan die oorkant van die pad was, maar aan ons kant van die pad was die gras kort gesny tot teenaan die pad,” het sy gesê.

Brandstigting as moontlike oorsaak word nie uitgesluit nie. Die wind het só sterk gewaai dat die vlamme oor die N1-snelweg “gespring” het en gou buite beheer was.

Alle noodgroepe van die dorp en omgewing is ingelig en brandblussers is gebruik in ’n poging om die laaste weiding van die seisoen te red.

Een van die boere wat groot skade gely het, is Carel Engelbrecht. Die vlamme het teenaan sy skuur en huis verbybeweeg en volgens hom was dit net ’n genade dat dit nie ook verswelg is nie.

Die brand kon geblus word, maar het dieselfde nag weer opgevlam en hulp is na die Verweg-pad, ongeveer 10 km buite die dorp op die Roedtan-pad, ontbied.

“Mense word dringend benodig met vuurvegters, rugsakspruite en vuurplakke om op die Verweg-pad te kom help. As ons nie hulp kry nie, sal die hele Nyl-omgewing afbrand. Die wind is sterk en die veld is droog,” was die oproep van Arrie Opperman, hoof van die brandweer in die dorp.

Volgens Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus DLU, is die vlamme met die hulp van talle vrywilligers onder beheer gebring.

Related Articles

Back to top button