Local newsNews

Plakkers kry trekpas uit openbare parkie

Die openbare parkie op die hoek van Ludorf- en Reitzstraat in Bela-Bela het nou só ’n kopseer vir inwoners geword, dat die hulp van die polisie die afgelope week ingeroep is.

Inwoners het gekla dat mense kaal in die park rondloop, hul klere by die ablusieblok was en daarna aan die draadheining ophang en iemand het glo ook ’n tent daar opgeslaan.

Die hulp van die polisie is ingeroep nadat verskeie mense Die Pos oor die situasie gekontak het en ook hul lot op openbare forums bekla het.

Rika Kruger, DA-raadslid, wat ook betrokke is by verskeie gemeenskapsprojekte in die dorp, het by navraag aan Die Pos gesê dit is belangrik dat mense in gevalle soos hierdie eerstens hul plaaslike munisipaliteite nader.

“Die eienaar van die grond is in so ’n geval die verantwoordelike persoon om ’n klag by die polisie in te dien.”

Sy het gesê wetgewing bepaal dat inwoners in sulke gevalle hul munisipale kliëntedienssentrums skakel wat dit dan na die betrokke afdeling sal verwys.

Amptenare moet daarna die park besoek en, indien nodig, die polisie vra om die mense te verwyder. Kruger het voorts gesê amptenare behoort gereeld openbare plekke te besoek en ongerymdhede in ’n voorvalboek aan te teken vir latere verwysings.

Kruger het gesê sy meen dié betrokke parkie behoort saans gesluit en soggens weer oopgesluit te word om ’n herhaling van die gebeure te voorkom.

“As daar nie opgetree word nie, sal al hoe meer onwettige plakkery in die woonbuurt plaasvind.”

Inwoners van die dorp kla al weke lank dat die munisipaliteit se kliëntedienssentrumnommer (014 736 8000) buite werking is. Teen druktyd was die telefone wel in ’n werkende toestand.

Die Pos het kommentaar by Kabelo Mosito, woordvoerder van die munisipaliteit oor die voorval probeer kry, maar is meegedeel dat hy tans met verlof is.

’n Ander amptenaar het aan Die Pos gesê die munisipaliteit is wel bewus van die klagtes en onderneem om dit te ondersoek. Hy het ook gesê die prosedurebeleid wat Kruger aan Die Pos verduidelik het, is korrek en inwoners moet dit volg indien hul soortgelyke probleme ondervind.

Kruger het gesê indien mense nie die amptenare kan bereik nie, word hulle aangeraai om in te skakel op die algemene munisipale Whatsapp-klagtegroep of om vir Tinus Ras, wyksraadslid, te bel by tel. 082 650 1185.

Kruger kan ook gebel word by tel. 082 558 0995.

Related Articles

Back to top button