Local newsNews

Huis in puin gelê deur brand

Boere en inwoners van Mookgophong het op Vrydag 20 Augustus gespook om ’n hewige veldbrand onder beheer te bring, toe ’n noodoproep om 14:30 op veiligheidsgroepe ontvang is dat ’n huis op ’n kleinhoewe buite die dorp aan die brand geraak het en dat hulp dringend benodig word.

Die brandweer het dadelik op die noodroep gereageer. Frikkie van Staden, wat ’n taksidermie op die aangrensende kleinhoewe bedryf, was teen ongeveer 14:45 op die toneel.

Verskeie ander inwoners van die dorp het ook gaan help om die brand, wat vermoedelik in die grasdaklapa teen die huis ontstaan het, te blus.

Die huis behoort aan ’n naweekboer, Sampie Jacobs, van Pretoria. Jacobs se suster en swaer, Annemarie en Leon le Roux, woon in hulle eie huis op dieselfde erf.

Annemarie het aan Die Pos gesê haar broer het baie waardevolle antieke meubels in die huis gehad wat in die brand vernietig is. Van die kamers het gelukkig nie gebrand nie en van die inhoud het behoue gebly.

Volgens Leon was sy vrou in hul kombuis doenig toe sy die rook gewaar het.

“Ons het uitgestap en gedink die rook kom nog van die veldbrand wat die vorige dag aan die ander kant van die pad gewoed het. Toe ons egter om die hoek kom, het ons met ’n skok besef dat dit die woonhuis is wat brand,” het hy aan Die Pos gesê.

“My broer is baie hartseer en ontsteld en sal eers later self na die skade kan kom kyk,” het Annemarie gesê.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar die sterk Augustuswind wat gewaai het, het dit beslis aangehelp.

Die Le Rouxs het die gemeenskap en brandweer bedank vir hul vinnige optrede en hulp.

Related Articles

Back to top button