Local newsNews

Dié krokodilboerdery verg baie toewyding

Om ’n krokodilboer te wees, moet jy geen bang haar op jou kop hê nie, maar beslis oë agter jou kop!

Die Pos het die afgelope week by ’n krokodilboer in die Mookgophong-omgewing wat oor dié eienskappe beskik, gaan kuier.

Jan en Karin Rabie het 19 jaar gelede dié lieflike plaas van 400 ha in die berge buite die dorp gekoop met die doel om met Nyl-krokodille te boer.

Die Rabies se seun, Tiaan, en sy vrou, Jeanne Marie, het ná skool by die boerderybedrywighede ingeval.

Tiaan en Jeanne Marie Rabie by die teelkrokodille waar die wyfies binnekort eiers gaan lê.

“Toe my pa vir ons gesê het dat hy met krokodille wil boer, het ons gedink hy maak ’n grap, maar toe hy die waterryke plaas koop, het ons besef dat hy ernstig was,” het Tiaan laggend tydens Die Pos se besoek vertel.

Hy het in 2002 die eerste dam gebou en met die hulp van ’n ander krokodilboer is die eerste 100 teelkrokodille na die plaas gebring. Daarna het hulle 1 000 babakrokodille gekoop en binne drie jaar was daar 3 000 klein krokodilletjies op die plaas. Daar is tans sowat 600 teeldiere en ongeveer 8 000 eiers word per jaar uitgebroei.

Die groot krokodille lê heerlik in die son en bak in afwagting op hul volgende maaltyd. Hul word sowat drie keer per week gevoer.

Dié boerdery is, soos talle ander landwyd, ook diep geraak deur die Covid-19-pandemie toe die mark vir velle en ander krokodilprodukte afgeneem het. Volgens Tiaan het hulle vanjaar net sowat 6 000 eiers uitgebroei omdat die markte tans nog wispelturig is.

Toerisme speel ook ’n groot rol in die boerdery en met die inperkings was daar geen besoekers nie en kon die restaurant, wat hulle in November 2012 geopen het, ook nie bedryf word nie.

Die krokodille word op die ouderdom van drie jaar geslag en dit is die maagvelletjies wat baie gewild is vir die uitvoermark na Europa, Japan en Amerika. Daar word ongeveer 800 diere per maand op die plaas, wat ook oor ’n abattoir en vleisverwerkingsaanleg beskik, geslag.

Tiaan maak self ook gordels van die velle. Heerlike krokodilgeregte word op hul spyskaart aangebied en volgens Jeanne Marie beproef baie gaste die eksotiese vleis vir die eerste keer wanneer hulle die plaas besoek. Die kos vir die krokodille kom van 10 hoenderplase in die Delmas-omgewing.

Die jaaroue krokodille word in die somer daagliks in die verhitte hokke gevoer, maar die teelkrokodille kry slegs twee keer per week kos om te verhoed dat hulle oorgewig raak. Die ander krokodille word drie maal per week gevoer.

Die damme word gereeld gedreineer en vars water word ingetap. Die gebruikte water word dan herlei na ’n groot dam waar dit gesuiwer word vir hergebruik. Van die water word ook gebruik om die lushof van tuine op die plaas in stand te hou.

Volgens Tiaan lê ’n wyfie jaarliks, en op een slag, tussen 40-60 eiers en haar eiers kan deur meer as een mannetjie bevrug word. Die eiers word uit die neste verwyder en dit neem ongeveer 80 dae in die broeikamers, wat teen ’n konstante temperatuur van 31,5 °C en 95% vogtigheid gehou word, om die eiers uit te broei.

“In die piekseisoen haal ons soms tot 1 500 eiers uit,” het Tiaan gesê.

Ongeveer 24 uur nadat die eiers gelê is, vorm daar ’n dikker wand om die eier wat aandui of dit bevrug is. Die klein krokodilletjies bly sowat twee jaar in die verhitte kweekhuis voordat hulle na die groter damme in die buitelug verskuif word. ’n Krokodil is eers op 10 jaar vrugbaar en daar is tans sowat 25 000 krokodille op die plaas.

“Die krokodilboerdery is beslis my passie” het Tiaan gesê.

Related Articles

Back to top button