Local newsNews

Saad van dooie diere danksy tegnologie verkry

Wanneer diere op plase vrek, word die nuttelose karkasse gewoonlik verwyder, maar met nuwe wetenskaplike navorsing en prosedures kan hierdie dooie diere steeds nut vir die boerderybedryf inhou.

Dr. Charles Serurrier, hoof- uitvoerende beampte van Ark Biotechnologies, en sy span het die afgelope naweek die Marulani-wildreservaat buite Bela-Bela besoek.

Die doel van hul besoek was om voortplantingsaad van dooie swartwitpensbulle te bekom en vir teeldoeleindes te bewaar.

“Ek het in 2016 die idee gekry om die testikels van dooie diere te preserveer. Die konsep is om die aktiewe spermselle by wyse van kriobewaring (cryopreservation) te red omdat dit vir boere in die toekoms handig kan wees in teelprogramme waar kunsmatige inseminasie (KI) toegepas word.”

Volgens Serurrier word suksesvolle programme reeds geruime tyd in die Noord-Kaap, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Mosambiek en Tanzanië uitgevoer.

Die kriobewaringsproses maak verder voorsiening om die genetiese kwaliteite van diere te bewaar. Serurrier sê hierdie metode kan ook waardevolle bydraes lewer tot die voortbestaan van diere wat uitwissing in die gesig staar, soos renosters.

“Dit het ons omtrent drie jaar geneem om die tegniek te ontwikkel en te verbeter. Ons het deur minstens 25 diere se oorskot gewerk om die tegniek suksesvol te maak.”

Die prosesse wat Serurrier en sy span gebruik is om die bul of ram se saad by wyse van elektriese ejakulasie-prosesse te onttrek.

Wanneer die dier vrek, word 26 ingewikkelde stappe uitgevoer om die testikels suksesvol te verwyder en te preserveer. Die tydsverloop tussen die oomblik dat die dier gevrek het en wanneer die proses begin om saad te tap, is uiters kritiek om die gewenste resultate te kry, het Serurrier gesê.

“Ons verwag dat daar groot belangstelling uit hierdie tegnologie sal voortspruit, omdat dit konvensionele telery sal herdefinieer en die betrokke dier se teelwaarde kan verhoog en verleng. Ons is nog in die proses om die tegnologie meer blootstelling te gee en te bemark.”

Related Articles

Back to top button