Local newsNews

Marina van der Wateren se nalatenskap leef voort

Thabazimbi het vanjaar verskeie staatmakers van die dorp weens die Covid-19-virus verloor.

Marina van der Wateren (74), een van die dorp se bekende en mees geliefde inwoners, het ook haar stryd teen dié virus verloor.

Van der Wateren is op 9 Junie 1947 in Middelburg, Mpumalanga, gebore en het op die familieplaas in die Hendrina-distrik grootgeword. Sy was in Hendrina op laerskool en het haar skoolloopbaan in Carolina afgesluit.

Sy het ná skool na Pretoria verhuis waar sy by die departement van onderwys gewerk en ’n boekhoukursus voltooi het. Dit is ook daar waar sy haar man, Jakkie, ontmoet het.

Die egpaar sou in November vanjaar hul 50ste huweliksherden- king gevier het. Van der Wateren se dogter, Petrea, onthou haar ma as ’n vrou wat ’n groot liefde vir handwerk, blommerangskikking en pottebakkery gehad het.

“My ma het dit baie geniet om met blomme te werk en het ’n bloemiste gehad voordat sy en my pa Thabazimbi toe getrek het,” het sy gesê.

Die Van der Waterens het hulle in 1983 in Thabazimbi gevestig waar Jakkie as prokureur by JF van Graan Prokureurs begin werk het. Dit is in hierdie jare dat inwoners Marina leer ken het as ’n voorslagvrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.

Sy het graag deelgeneem aan verskeie aktiwiteite in die dorp en sodoende diep in die harte van Thabazimbi se mense gekruip.

“Sy was jare lank deel van die pottebakkeryklub totdat die klub doodgeloop het,” het haar dogter vertel.

“Sy was ’n ywerige lid van die gholfklub en was vroueklubkaptein by die Thabazimbi-gholfklub.”

Haar man het in Januarie 1985 die praktyk oorgeneem en nie lank daarna nie het Marina by hom aangesluit as eiendomsagent.

Daar het mense haar leer ken as ’n formidabele sakevrou wat graag moeite vir haar kliënte gedoen het.

Haar eerlikheid, integriteit en liefde vir mense het haar gehelp om een van Thabazimbi se mees gerespekteerde sakevroue te word. Haar kollegas en vriende by Van Graan & Van Der Wateren Eiendomme skryf hul sukses toe aan die liefde wat Marina vir dié maatskappy en sy mense gehad het.

Hulle bedank inwoners en kliënte vir hul volgehoue ondersteuning, liefde en medelye oor die afgelope maand en wil die publiek gerusstel dat sake soos normaal voortgaan.

Volgens Petrea was haar ma ’n baie vrygewige mens.

“Sy het gesaai in die ko- ninkryk van God. My ma was ’n wonderlike vrou vir my pa en ’n besondere moeder vir haar kinders. Vir haar kleinkinders was sy ‘Ouma Lief’ en daar was altyd ’n rooi lipstiffie soen op hul wange as sy in die omgewing was.”

Marina laat haar man, hul twee kinders Jan Floris en Petrea, haar skoonkinders Mulde en Dirk en ook haar vier kleinkinders Arno, Lika, Kaylin en Anieke, agter.

Related Articles

Back to top button