Local newsNews

Inwoners van Modimolle onthou Hanneke Boshoff met deernis

Hanneke Mansvelt Boshoff (89), ’n geliefde inwoner van Modimolle, is op Dinsdag 3 Augustus in die Montana-hospitaal in Pretoria ná ’n kort siekbed oorlede.

Sy het jare lank aan kolonkanker gely wat mettertyd komplikasies veroorsaak het.

Haar toestand het versleg nadat sy einde Julie geval en haar arm lig beseer het. Sy is later met nierversaking in die Podi Clinic in Bela-Bela opgeneem en toe na die Montana-hospitaal oorgeplaas waar sy ’n operasie ondergaan het.

Sy is kort ná die operasie oorlede. Volgens Elize Coetzee, Boshoff se beste vriendin sedert sy in 1975 na Modimolle verhuis het, het Boshoff op die plaas Rusplaas, tussen Lydenburg en Ohrigstad, grootgeword.

Sy was van gr. 1-8 in ’n plaasskool op Rusplaas waarna sy haar skoolloopbaan aan die Martha Human Huishoudskool in Hartbeespoort voltooi het.

Sy het ’n kursus in verpleegkunde by die destydse H.F. Verwoerd-hospitaal in Pretoria voltooi, asook bykomende opleiding in verloskunde en aansteeklike siektes. Sy het oor die jare by verskeie hospitale op die platteland, en veral Mokopane en Modimolle, as vroedvrou gewerk.

Sy en Roelf Boshoff is in 1958 getroud en het in 1975 op ’n plaas naby die Donkerpoortdam gaan woon. Die egpaar het nooit kinders gehad nie.

Ná haar man se dood het Boshoff in ’n huis in die dorp gaan woon en later jare in ’n woonstel.

Sy het sedert 2007 in die Dienssentrum vir Bejaardes in Kerkstraat, Modimolle, gewoon.

Boshoff het altyd uitgereik na mense in nood en in 2001 as vrywilliger by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Waterberg-tak begin werk.

Sy het tot met haar dood vrywillige diens vir Kansa verrig.

Sy het haar geloof met oorgawe uitgeleef en was meer as 40 jaar ’n lidmaat van die AGS-gemeente in Modimolle wat bekend staan as die Fokus Deo-gemeente.

Die gedenkdiens vind op Vrydag 27 Augustus om 10:00 vanuit die Fokus Deo-gemeente in Modimolle plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button