Local newsNews

Só onthou Thabazimbi vir Piet Strydom

Inwoners van Thabazimbi het met leedwese en skok verneem van die dood van raadslid Piet Strydom (75) op Vrydag 6 Augustus.

Hy het ’n lang stryd teen kanker gestry.

“Piet het almal gehelp.” Só vertel Elizna Kotze, sal Thabazimbi se inwoners haar pa onthou.

My innige meegevoel aan die Strydom-familie. Oom Piet het voorwaar diep spore in die gemeenskap van Thabazimbi getrap en sal beslis deur die gemeenskap gemis word. Baie sterkte aan tannie Ems en die hele Strydom-familie. Ons bede is dat ons Hemelse Vader julle deur hierdie moeilike tyd sal dra.
— Willie Aucamp (DA-parlementslid)

Strydom was een van die dorp se mees geliefde inwoners wat deur die jare bekend geword het as ’n ware staatmaker wat reg gestaan het met raad, hulp of ’n skouer om op te huil.

Hy was die afgelope 10 jaar raadslid en later ook hoofsweep van die Thabazimbi-munisipaliteit. As lid van die Demokratiese Alliansie (DA) was Strydom ’n groot steunpilaar vir die inwoners van Thabazimbi en spesifiek die Dwaalboom-omgewing waar hy verskeie projekte bestuur het.

Rus in vrede, oom Piet. Oom was ’n reus in die hoenderbedryf en laat ’n groot leemte. Oom het ’n wonderlike hart gehad en elkeen met deernis en respek hanteer. Vlieg hoog, oom Piet.
— Josef Johannes Joubert

“My pa het uit sy pad gegaan om te help,” het Elizna gesê. “Selfs met tye dat hy baie siek was, het hy in Dwaalboom rondgery om seker te maak dat die inwoners water het of om hand by te sit as daar krisisse was.”

Strydom is in 2014 vir die eerste keer met kanker diagnoseer, maar ten spyte van dié terugslag het hy steeds voluit geleef en ander geïnspireer met sy positiewe houding, vriendelike geaardheid en eindelose liefde.

So sad to hear of Piet Strydom’s passing. A kind Soul. He always welcomed me with a warm hug followed by a long conversation. Rest in Peace, oom Piet. You will be dearly missed. Condolences to the family, friends, Democrats and colleagues.
— Katlego Suzan

“My pa het voluit geleef,” het sy dogter gesê. “Hy het nooit gaan lê nie. Baie mense het hom geken as ‘Piet Wiele’ omdat hy altyd besig was.”

As hoenderboer het hy nasionaal bekend geword as iemand met ’n passie vir die teël van pluimvee. Hy het die afgelope agt jaar gespog met van die beste skouhoenders in die land.

Sy talent vir atletiekafrigting het ook talle atlete gehelp om hul eie talente ten volle te ontwikkel. Hy het selfs as mentor opgetree vir atlete soos Oscar Mavundla, wat deel was van die Suid-Afrikaanse Olim- piese-span.

Hy het ook talle skoolleerders, insluitend sy eie dogter en kleinkind, gelei om op provinsiale- en nasionale vlak op die atletiekbaan mee te ding.

Sy liefde vir sy naaste en sy passie om ander te help is iets wat talle Thabazimbi-inwoners sal bybly.

Strydom was bekend as ’n geduldige man wat ander met respek hanteer het en dit is juis dié respek, naasteliefde en hulpvaardigheid waarvoor hy onthou sal word.

Hy laat sy vrou Ems, dogter Elizna en sy seun, Francoius, agter.

Related Articles

Back to top button