Local newsNews

Petisie teen vuurwapenwet maak draai in parlement

Die spertyd om kommentaar oor die beoogde nuwe vuurwapenwet, wat onder meer selfverdediging uitsluit as geldige rede om ’n vuurwapen te besit, het die afgelope week verstryk.

Andrew Whitfield, die DA se skadu-minister van polisie, het op Donderdag 29 Julie ’n petisie met meer as 100 000 handtekeninge by die parlement ingedien.

Die DA, en verskeie ander rolspelers, is gekant teen die nuwe beoogde wetgewing wat volgens hulle Suid-Afrikaners se menseregte skend.

Desireé van der Walt, DA-kiesafdelingshoof in die Waterberg, het aan Die Pos gesê meer as 2 000 Waterbergers het sedert Mei die DA se petisie teen die wetsontwerp onderteken.

“Boere, veiligheidsinstansies en inwoners van die Waterberg-streek het die petisie onderteken en só hul misnoeë teen die wysiging van die wetsontwerp te kenne gegee. Almal word geraak deur misdaad en dit is nodig dat mense hulself kan verdedig.”

Volgens Whitfield het Suid-Afrikaners tydens die onluste en geweldpleging in Julie vanjaar in KwaZulu-Natal en Gauteng, opnuut besef hulle kan nie op die polisie staatmaak om hulle te beskerm nie.

Elke landsburger moet paraat wees om hulself en hul eiendom te beskerm, het Whitfield gesê.

Die Waterberg-omgewing is nie geraak tydens dié geweldpleging nie. Die DA het gesê hulle is voorts gekant teen nóg bepalings van die wetsontwerp.

Een van dié bepalings is dat die minister van polisie by magte sal wees om eienaars van vuurwapens te verbied om sekere ammunisie te koop.

Die herlaai van ammunisie vir sportskuts word ook verbied.

Die DA is van mening dat die wet ’n negatiewe uitwerking op sport- en jagbedrywighede, asook die privaat veiligheidsektor, sal hê en dat die versameling van wapens as stokperdjie verbied kan word.

Volgens Van der Walt is al die besware aan die portefeuljekomitee wat gemoeid is met die wetsontwerp oorhandig.

Die parlementêre proses, waar elke beswaar en die meriete van ’n saak, in ag geneem moet word, is nou in werking, het sy gesê.

Related Articles

Back to top button