Local newsNews

Kyk hoe lyk ons nou!

Lede van die Naboom-dierebeskermingsgroep in Mookgophong en vrywilligers uit die gemeenskap het op Vrouedag 9 Augustus hand bygesit om honde wat tydelik by die dierekliniek in die dorp gehuisves word, te bad en bederf.

Die diere het ná die groot badsessie voor die kamera gepronk. Die honde is almal weggooidiere wat tydelik by die dierekliniek versorg word. Hulle is almal beskikbaar vir aanneming.

“Dit was ’n heerlike oggend waar 16 diereliefhebbers aangemeld het om ons te help,” het Miekie Oberholster, voorsitter van die dierebeskermingsgroep, gesê.

Daar is tans 12 volwasse- en 12 babahondjies wat versorging en huise nodig het. Skenkers help met donasies vir kos en dr. Naomi Joubert stel haar hondehokke beskikbaar totdat die honde nuwe huise kry.

Drie van die honde is deur vermeende wilddiewe tydens strooptogte gebruik en deur die polisie gekonfiskeer toe die mans aangekeer is. Twee pragtige pitbull-honde is langs die pad tussen Mookgophong en Modimolle gevind. Die vermoede bestaan dat hulle daar afgelaai is of weggeraak het.

“Ons is op soek na die eienaars en hoop dat hulle na vore sal kom. Die reun en teef is albei pragtige diere,” het Oberholster gesê.

“Die moontlikheid bestaan dat honde uit erwe gesteel word om vir hondegevegte te gebruik. Die mense wat hondegevegte organiseer word ook nou verbind met dwelmverwante aktiwiteite. Dit is sindikate wat deel vorm van die hondegevegtebendes,” het Corné Pohl van ’n veiligheidsgroep van Mookgophong gesê nadat ’n hond klaarblyklik aan so ’n groep verkoop is.

Twee katjies is ook onlangs uit ’n huis wat aan die brand geraak het, gered. Oberholster het gesê hulle beoog om nog hokke te bou indien voldoende skenkings ontvang word.

Die groep is afhanklik van bydraes van inwoners en is baie dankbaar vir almal se bereidwilligheid om te help en vir die ruim bydraes wat hulle al ontvang het.

Indien enige verwaarloosde of verlore troeteldiere gevind word, kan die groep op hulle Facebookblad gekontak word.

Related Articles

Back to top button