Local newsNews

Bart het rugby met ’n hoofletter R gespel

Die dood van Bart Heyneke, bekende inwoner van Mookgophong op Vrydag 30 Julie, het ’n groot leemte in die gemeenskap en veral provinsiale rugbykringe gelaat.

Hy is op Donderdag 8 Julie in ’n hospitaal in Polokwane opgeneem nadat hy Covid-19 opgedoen het.

Sy toestand het verswak en hy moes op Maandag 19 Julie oorgeplaas word na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein.

Dit was volgens sy familie die enigste hospitaal wat ’n bed vir kritieke sorg beskikbaar gehad het. Hy is 11 dae later in dié hospitaal oorlede.

Sy vrou, Christelle, het aan Die Pos gesê sy kon hom nie besoek nie en dat dit ’n groot hartseer en leemte laat. Sy is self nie gesond nie en kon nie die rit Vrystaat toe aanpak nie.

Bart was reeds van die ventilator ontkoppel en uit die hoësorgsaal na ’n gewone saal geskuif toe sy toestand skielik verswak het. Hy moes dialise kry en het kort daarna gesterf.

Mauritz Hansen, ’n jarelange vriend, het in ’n roerende huldeblyk gesê Bart was ’n wonderlike staatmaker wat lojaliteit aan sy vriende en familie betoon het.

Hy het diep spore in die dorp en omgewing getrap en was een van die stigterslede van die Naboomspruit Opvoedkundige Trust (Noptru) wat baie leerders van Hoërskool Hans Strijdom in die dorp geldelik bygestaan het. Hy en sy gesin het 42 jaar in die dorp gewoon.

“Vir Bart Heyneke, wat self ’n gesoute speler was, is rugby altyd met ’n hoofletter R geskryf,” het Hansen gesê.

Bart het op skool reeds as rugbyspeler presteer en vir die destydse Noord-Transvaal-span in die Cravenweek uitgedraf. Hy het later vir die Noord Transvaal o.20-span uitgedraf en was etlike seisoene die haker op die plaasvervangerbank van die Noord Transvaal-span. Hy het ook baie jare in die Carlton-liga gespeel.

Nadat hy na Mookgophong verhuis het, was hy kaptein van die destydse Verre Noord-span en is hy in die Suid-Afrikaanse Platteland-span opgeneem.

Bart het ’n groot rol gespeel in die ontstaan van “rugbyland” by die Hansies en hy was onder die Hansies bekend as die “maanhaarleeu” van rugby, het Hansen gesê.

Hy laat sy vrou, ’n dogter en vier kleinseuns agter. Die egpaar se enigste seun is ’n paar jaar gelede oorlede.

Sy begrafnisdiens het op Donderdag 5 Augustus in die NG-kerk in die dorp plaasgevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button