Local newsNews

Bid vir Thabazimbi

Gemeentelede van die New Way Christian Church (NWCC) en inwoners van Thabazimbi het die afgelope paar maande weekliks by die Mediclinic in die dorp byeengekom om te bid vir die gemeenskap, en in besonder vir Covid-19-pasiënte en hospitaalpersoneel.

Thabazimbi is baie hard deur die Covid-19-pandemie geraak. Statistieke toon dat meer as 329 inwoners die afgelope jaar aan die siekte gesterf het.

Juis daarom het gemeentelede en geestelike leiers van die dorp besluit om ’n weeklikse byeenkoms te hou om nie net vir die dorp en sy mense te bid nie, maar ook hulde te bring aan die gesondheidswerkers wat lang ure werk om pasiënte te versorg.

Ruaan Jacobs begelei die lede van die NWCC-kerk en inwoners van
Thabazimbi by die
weeklikse lofprysing.

Die groep hou aan groei en strek oor alle ras-, ouderdom- en kulturele agtergronde.

“Dit is belangrik om ’n hart te hê vir die siekes en hulpeloses en vir hulle te bid,” het past. Billy Pring verduidelik.

“Jesus het gekom om vir ons lewe in oorvloed te gee en daarom moet ons ons oë weer na Hom rig vir hulp en om hoop te verkry.”

Pring het tydens die weeklikse byeenkoms op Woensdag 28 Julie gesê dit is juis in tye soos hierdie dat mense moet saamstaan.

“Mense is bang en vrees is die teenoorgestelde van geloof,” het hy gesê.

Sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie werk gesondheidswerkers onder baie stresvolle omstandighede, verskeie mense het hul werke verloor, talle mense het geliefdes aan die dood afgestaan en mense het hoop verloor.

Martjie du Preez, algemene hospitaal bestuurder, het op haar beurt haar dank uitgespreek teenoor Pring, sy gemeente en inwoners wat die byeenkomste bywoon.

“Ek wil namens die hele hospitaal baie dankie sê vir julle getroue teenwoordigheid by die hospitaal. Ons is die afgelope twee maande deur ’n ontsettende moeilike tyd, maar dit het nou vir die eerste keer weer gevoel of ons begin lig sien. Julle verstaan nie hoe baie dit vir ons personeel én ons pasiënte beteken om julle vriendelike gesigte deur die vensters te sien nie. Sommige aande as julle hier buite staan en sing, sit die personeel binne en huil. Hoewel ons nie kan uitkom om saam met julle te wees nie, is ons heeltyd in die gees saam met julle,” het sy afgesluit.

Pring se droom is om elke maand saam met die gemeenskap te groei en binnekort mense van regoor Thabazimbi te inspireer om by hulle aan te sluit.

“Wat ’n wonderlike tyd om te leef. Ons het soveel geleenthede as die kerk van Christus om Sy woord uit te dra en Sy liefde en hoop te versprei en nou, meer as ooit tevore, moet die kerk sy plek inneem om vissers van mense te maak,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button