Local newsNews

Vyftien bejaardes sterf by tehuis weens Covid-19

Altesame 15 bejaarders het sedert die eerste positiewe geval van die derde vlaag van Covid-19 op Vrydag 2 Julie by die Naboom Tehuis vir Bejaardes in Mookgophong gediagnoseer is, gesterf.

Dit sluit die drie inwoners van die Lewensvreug-woonstelle, wat op die terrein geleë is, in.

Volgens Hercules Louw, bestuurder van die tehuis, is daar tans 32 inwoners wat positief vir die virus getoets het.

Daar was ook 15 personeellede wat teen Woensdag 7 Julie positief getoets het. Hulle het dadelik in selfisolasie gegaan en het vandeesweek eers weer teruggekeer werk toe.

“Al die werkers en personeellede is darem nou weer terug en die tehuis funksioneer weer soos normaalweg,” het hy gesê.

Die inwoners wat tans positief is, word in isolasie gehou. Hulle bly in hul kamers en word daar versorg. Hulle ontvang alle etes en medikasie in hul kamers.

“Daar is ’n algehele inperking wat nie maklik vir die inwoners is nie. Ons probeer die Covid-19-pandemie na die beste van ons vermoë hanteer,” het Louw gesê.

Besoekers word steeds nie by die tehuis toegelaat nie en streng Covid-19- protokol word gehandhaaf wat personeellede se in- en uitbeweeg betref.

’n Familielid van een van die bejaardes het aan Die Pos gesê hulle is bekommerd oor die gemoedstoestand van die inwoners aangesien hulle geen besoekers ontvang nie en dat dit van die inwoners erg emosioneel raak.

Die dood van ander inwoners raak hulle ook elke keer ten diepste. Louw het gesê die tehuis doen alles in hul vermoë om die situasie te normaliseer.

Die pandemie het egter baie unieke uitdagings, het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button