Local newsNews

Verkiesing uitgestel na 2022

Die munisipale verkiesing wat in Oktober vanjaar sou plaasvind, is deur die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) weens die Covid-19-pandemie tot in 2022 uitgestel.

Die nasionale registrasieweek, wat vir Saterdag 31 Julie en Sondag 1 Augustus geskeduleer was is ook onbepaald uitgestel. Dit sal na alle verwagting ook eers aanstaande jaar plaasvind. Regter Dikgang Moseneke het verlede week op ’n mediakonferensie bekend gemaak dat hulle aanbeveel dat die verkiesing eers in 2022 plaasvind.

Volgens hom sou die verkiesing in Oktober nie vry en regverdig kan wees nie weens die impak wat die Covid-19-pandemie op die hou van vergaderings en groot politieke saamtrekke het.

Moseneke het sy kommer uitgespreek dat die virus tydens stemdag kan versprei indien die grootste gedeelte van die bevolking nog nie teen daardie tyd ingeënt is nie.

Die OVK win tans regsadvies in om ’n gepaste datum vir die verkiesing te bepaal. Volgens kenners mag dit nie later as Februarie 2022 plaasvind nie.

Registrasies kan steeds by die plaaslike OVK-kantore gedoen word; selfs al is die registrasienaweek en stemdag uitgestel. OVK-beamptes sal bejaardes en gestremdes ook tuis besoek om registrasies na te gaan. Skakel met die naaste OVK-kantoor om ’n afspraak te maak.

* Bela-Bela-kiesers moet daarvan kennis neem dat die munisipale afbakeningsraad (MAR) reeds in 2020 aanpassings aangebring het aan die dorp se wyksgrense, veral dié in wyk 1 en wyk 9.

Die Pos het by die plaaslike OVK en die DA vasgestel dat ’n groot gedeelte van Noodhulp-hoewes nou met wyk 1 saamgesmelt het. Die nuwe wyk 1-grenslyne sluit nou gedeeltes van Noodhulp, Klippan, Nooitgedacht, Driefontein en Entebe in.

Die woongebied wes van Flamboyant- en Kretzchmarlaan val steeds in wyk 1, maar die gebied wes van Roodepoortstraat val onder wyk 9. Die Tuin Tuiste-aftreeoord, asook die Renaissance-aftreeoord, val steeds onder wyk 1.

Die stempunte vir wyk 1 is Laerskool Warmbad en die NG Moedergemeente in Mentzlaan.

Die OVK raai inwoners aan om hul inligting na te gaan en seker te maak dat hulle by die korrekte stempunt geregistreer is indien hulle van adres verander het of onseker is oor die nuutste afbakening. Die Bela-Bela OVK-kantoor kan bereik word by tel. (014) 736 8006.

Mense kan ook die OVK se webtuiste by www.registertovote.elections.org.za besoek.

Related Articles

Back to top button