Local newsNews

Gewilde RSG-omroeper sterf

Die voormalige radiopersoonlikheid en RSG-omroeper, Amanda Olivier, is op Sondag 25 Julie aan Covid-19-verwante oorsake dood.

Sy het die afgelope vyf jaar in die Kokanje-aftreeoord in Modimolle gewoon. Marie Meyer, haar suster wat ook in Kokanje woon, het tydens ’n onderhoud met Die Pos vertel dat Olivier einde Junie siek geword het.

“Sy is aanvanklik vir drie dae in die Phodi Clinic in Bela-Bela opgeneem waarna sy oorgeplaas is na die harthospitaal in Pretoria waar sy vir drie weke in die Covid-19-saal behandel is. Haar toestand het egter verswak en sy is na die hoësorgeenheid verskuif waar sy vir ’n week lank aan ’n ventilator gekoppel was. Haar toestand het in die vroeë oggendure van Sondag 25 Julie skielik drasties verswak en sy het omstreeks 07:00 gesterf,” het Meyer vertel.

Volgens haar suster was sy gelukkig getroud met Jan Olivier wat jare lank nuusredakteur by die destydse SAUK in Pretoria en later in Bloemfontein was. Hy is in 2003 oorlede waarna sy na Johannesburg verhuis het.

Olivier het geen kinders van haar eie gehad nie, maar was ’n geliefde ma vir die twee dogters en een seun uit Jan se eerste huwelik. Meyer vertel dat haar suster die wêreld vol gereis het en dat die kosbare herinneringe aan die reise wat hulle twee meegemaak het na onder meer Europa en die Griekse eilande, haar altyd sal by bly.

Olivier het ongeveer tien jaar gelede afgetree, maar het tot in 2019 vryskutwerk vir RSG gedoen. Sy sal veral onthou word as aanbieder van die gewilde Musiek sonder grense-program wat haar liefde vir reis weerspieël het.

Meyer vertel hoewel haar suster oorspronklik ’n onderwysdiploma voltooi en onderrig in Johannesburg gegee het, het sy later jare as kranige verslaggewer in Durban gaan werk.

Dit is ook daar waar sy haar eggenoot ontmoet het. Die egpaar het na Bloemfontein verhuis. Olivier was ook ’n kontinuïteitsaanbieder op RSG van verskeie inligtingsprogramme soos Wat sê die dokter/ veearts/ prokureur? Asook ’n kinderprogram, Siembamba.

Volgens haar oudkollegas het sy geleef vir haar werk as omroeper. Albé Grobbelaar, ’n bekende radio- en TV-man, vertel dat hy Olivier in 1984 aangestel het by die Afrikaanse Radiodiens in Pretoria wat later as RSG bekend gestaan het.

Die RSG-omroeper Derrich Gardner onthou Olivier se wye musiekkennis en haar liefde vir uitsaai. Leon van Nierop, bekende skrywer en rolprentresensent, het jare saam met Olivier by die SAUK gewerk. Hy vertel dat hulle oor enige beuselagtige onderwerpe kon praat.

“Amanda het goedheid in haar hart gehad, opregtheid en menslikheid. Ek het die indruk gekry dat uitsaai vir haar amper heilig was; iets wat sy met toewyding en erns aangepak het. Ek kon my verluister aan haar wonderlike stem,” het van Nierop gesê.

Die RSG-omroeper Amore Bekker het vertel dat Olivier se aansteeklike lag van ver gehoor kon word.

“Wanneer ek haar lag gehoor het, het ek geweet die dag gaan oukei wees — ons gaan oukei wees. Nou is daardie lag vir altyd stil.”

Olvier laat haar drie stiefkinders en hul eggenotes en vier kleinkinders agter. Die gedenkdiens vind op Saterdag 31 Julie om 11:00 in Wonderboom, Pretoria, plaas.

Related Articles

Back to top button