Local newsNews

Geliefde Moksie Pelser het die wenpaal bereik

“Jy is nooit so naby aan jou Skepper soos wanneer jy draf nie.”

Só het Elize (Moksie) Pelser altyd vertel hoe sy haarself gemotiveer het om elke wedloop wat sy aangepak het, te voltooi.

Dit is ook met hierdie geloof, positiwiteit en deursettingsvermoë dat sy elke dag haar lewe geleef het totdat sy op Dinsdag 27 Julie oorlede is.

Pelser wat die afgelope week haar jarelange stryd teen kanker verloor het, was alombekend in die dorp as ’n terggees met ’n hart van goud wat elke uitdaging vierkantig in die oë gekyk het. Tog staan een woord uit wanneer ’n mens aan haar dink: Inspirasie.


Die engele jubel. Moks, jy was enig in jou soort. Elkeen wat jy aangeraak het, sal jou onthou. Jy het gewys wat uithouvermoë is. — Tokkie Swanepoel


Sy was ’n boorling van Thabazimbi wat van jongs af ’n passie vir sport gehad het.

Sy is in 2014 met borskanker gediagnoseer en ten spyte van ’n mastektomie, chemoterapie en bestraling het die kanker dieselfde jaar na haar skelet versprei. Hierdie terugslag was egter nie vir haar ’n handrem nie, maar ’n motivering om die beste van elke dag op aarde te maak.


My sus, baie dankie dat ek deel van jou lewensreis kon wees. Ek sal daardie mooi glimlag verewig onthou. Jy was en is nog steeds my sussa en ek is bitter baie lief vir jou. Rus sag, tot ons weer bymekaar is. — Nats van Dyk


“Live a life to remember, het sy altyd gesê,” vertel Pierre van Jaarsveld, een van haar vriende.

“Dit is haar nalatenskap. As ’n mens een ding by haar kon leer, is dit om altyd voluit te leef en nooit te gaan lê nie,” vertel Van Jaarsveld.


Toe my man, Pierre, oorlede is, het sy ingespring en met haar liefde en omgee alles beter gemaak. Toe my dogter se eerste verjaardag sonder haar pa aangebreek het, het Moksie daar opgedaag met ’n “tutu” en ballonne, soos net sy kon doen en dit my dogter se lekkerste verjaarsdag nog gemaak. Sy was voorwaar ’n fontein van lewe. — Liezel Blignaut


Hy onthou ook dat sy ’n vrou was wat uit haar pad sou gaan om ander mense te help en te ondersteun, maar dit is haar liefde en ondersteuning vir haar seun, Tjaart, wat hom die meeste sal bybly.

“Moks was ’n ma vir almal, maar haar verhouding met haar eie kind was vir almal ’n bron van inspirasie,” vertel hy.


Ai my liefste Moksie, jy was enig in jou soort. Ons almal het opgekyk na die “supervrou” wat jy was. Opgee was nooit ’n opsie vir jou nie. Thabazimbi gaan nie weer dieselfde wees sonder jou nie. — Chantel van der Merwe-Frohlich


“Ek onthou hoe sy jare gelede, toe Tjaart my klubrugbyspan se waterdraer was, elke wedstryd bygewoon het om hom te ondersteun. Selfs al het hy nie in die span gespeel nie, het sy van dorp tot dorp saamgegaan om deel te hê aan sy aktiwiteite.”

Haar vriende beskryf Pelser as ’n ware ystervrou wat nie ’n bang haar op haar kop gehad het nie.


In hierdie wêreld van chaos, was Moks die kleur, die lawwigheid en ook dit wat sin maak. Die lewe het haar oorlaai met struikelblokke, maar sy het elkeen oorwin. Sy oorwin steeds in die Ewige Lewe. Dit was ’n voorreg om haar te ken. — Zanie Janse van Rensburg


“Moksie was ’n bok vir sports. Sy was ook pynlik eerlik en het gesê net wat sy wou, maar sy kon ook al die grappe wat sy uitgedeel het, in ’n goeie gees gevat het,” het Zanie Janse van Rensburg, nog ’n vriendin, vertel.

“Die engele gaan moet bontstaan; hulle het nie ’n idee watter sports op hulle wag nie.”

“As sy ’n geleentheid gekry het om partytjie te hou, het sy altyd gróót gegaan met haar uitrustings,” het haar vriende vertel.

“Sy het altyd gesê as sy sterf, mag ons nie hartseer wees nie, maar ons moet haar lewe vier.”


Jy was ’n ware inspirasie vir so baie van ons, en vir my in besonder. Ons sal jou altyd onthou. — Mari Daffue-Engelbrecht


Sy sou op 11 September vanjaar haar 50ste verjaarsdag gevier het. Wanneer haar geliefdes terugkyk op ’n lewe saam met haar, onthou hulle iemand wat familievas was met ’n onblusbare lewenslus, ’n puik afrigter, ’n berader met deernis en ’n diep gelowige vrou.

Sy laat haar seun, Tjaart, en haar man, Sol agter, maar haar dood laat ook ’n groot leemte in die harte van talle Thabazimbi-inwoners.

Sy het ook ’n groot bydrae by Hoërskool Frikkie Meyer gelewer waar sy as atletiek- en rugbyafrigter betrokke was.

Elize Mocke-Pelser het haar laaste wedloop gehardloop, maar haar nagedagtenis bly voortleef. Rus sag, Moksie.

Related Articles

Back to top button