Local newsNews

Gasvryheidsbedryf baie swaar deur inperkingstyd getref

Pres. Cyril Ramaphosa het op Sondag 25 Julie die landwye Covid-19-inperkings-maatreëls verslap na vlak 3-regulasies.

Die president het aangekondig dat die land op grond van die aanbevelings van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, en insette van die president se koördineringsraad, van die aangepaste vlak 4 na vlak 3 geplaas word.

Op plaaslike bodem beteken dit dat verskeie sakelui nou ’n sug van verligting slaak. Bernadine Nel, ’n plaaslike sakevrou, het aan Die Pos verduidelik dat innovering die sleutel is tot sukses in swaar tye.

“Die impak van die inperkings is enorm in Thabazimbi,” het sy gesê.

“Veral die gasvryheidsbedryf het ooglopende uitdagings. Daar was geen kliënte wat restaurante en gastehuise besoek het nie en dus geen inkomste nie, maar daar is soveel ander uitdagings wat ons in die gesig staar.”

“Met die uitbreek van die pandemie is ons gedwing om ons eie sienswyse en manier van handel dryf aan te pas,” het sy uitgebrei.

Volgens Nel staar sakeondernemings steeds baie uitdagings in die gesig, soos byvoorbeeld die bykomende uitgawe van handsaniteerders en ander skoonmaakmiddels, huuruitgawes en verskeie ander bedryfskostes wat steeds betaal moet word, al is daar vir ’n lang tyd geen inkomste gegenereer nie.

Die veiligheid van werknemers en kliënte bly egter die belangrikste en daarom vertel Nel, lê die moontlike oplossing van die probleem in innovering.

“In die perfekte omstandighede moet sakeondernemings altyd innoveer om bo te bly. Dit is egter nou nog meer van toepassing as ooit tevore. Gastehuise wat byvoorbeeld instapkliënte verloor het, kan begin wegneemetes bedien of selfs ’n afleweringsdiens oorweeg,” verduidelik sy.

“Kliënte kan op hulle beurt ook help om ons plaaslike sakeondernemings te ondersteun deur meer plaaslike produkte en dienste te gebruik,” het sy gesê.

Dit is deesdae baie maklik om aanlyninkopies te doen, maar volgens Nel ly klein sakeondernemings op plaaslike vlak soms skade daardeur, want hulle kan nie meeding met nasionale verspreiders nie.

“Ons het maar min voete in Thabazimbi; so dit is baie belangrik dat ons begin om meer plaaslike sakeondernemings te ondersteun om sodoende weer kapitaal in ons dorp te stoot,” het sy gesê.

  • Kyk ook na die grafiek met die jongste inperkings.

Related Articles

Back to top button