Local newsNews

Blommevreugde sit hartklop in die winter

Besoekers aan Paul en Maretha Els se plaas net buite Modimolle word aangenaam verras deur die oordadige skakerings van oranje en geel te midde van die vaalbruin Bosveld-winterlandskap.

Volgens Maretha het haar bedding clivias (boslelies) vanjaar vroeg in Julie begin blom wat ongewoon is, want hul blom gewoonlik eers vanaf Augustus tot November.

Sy het aan Die Pos vertel dat sy jare gelede so ’n oordadige kleurspel in haar tuin gehad het.

“Ek het gevoel die Liewe Vader bring juis nou vir ons sonskynblomme as teken van troos en hoop te midde van hierdie winter-seerkrytyd,” het sy gesê.

Maretha het vertel dat sy in Junie vanjaar self Covid-19 opgedoen het, maar intussen bykans volkome herstel het. Dit is juis wat haar aangespoor het om hierdie blommevreugde met ander mense te deel.

Sy het op Donderdag 22 Julie en Vrydag 23 Julie ’n hele aantal bosse blomme by van die spreekkamers, supermarkte en apteke in Modimolle uitgedeel.

Selfs die Pos-koerant in Modimolle het ’n bos sonskynblomme ontvang.

“Ek wil graag met hierdie bosse blomme dankie sê aan almal wat onverpoosd agter die skerms werk en hulle wat in liefde uitreik na almal wat hulp nodig het,” het sy aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button