Local newsNews

Honderde staan tou vir entstof

Die afgelope paar dae se bibberweer het inwoners van Mookgophong nie van stryk laat bring om ingeënt te word nie.

Talle mense was reeds vroegoggend op Dinsdag 20 Julie by die munisipale gebou om hul entstof te ontvang.

Van die ouer inwoners is toegelaat om voor in die ry te staan en sodoende vinniger ingeënt te word. Lee van Vuuren, ’n jonger inwoner, het aan Die Pos gesê sy gee nie om om te wag nie en sy meen die proses het goed verloop. Vir sommige mense was dit hul tweede inspuiting en talle het gesê hulle is baie verlig dat die inentingsposes afgehandel is.

Elrine van Staden, inwoner van Mookgophong, was een van die inwoners wat vroeg uit die vere was om haar tweede inenting op Dinsdag 20 Julie te ontvang.

Rina du Preez, assistentbestuurder van die departement van gesondheid in Modimolle, en haar kollega Mmasello Malebate, assistentbestuurder van dieselfde departement in Mookgophong, was baie tevrede en dankbaar dat inwoners so positief gereageer het op die inentingsproses in die dorp.

Daar is ook vier spanne van die departement van gesondheid wat vir drie dae die inenting by Mookgophong Primary School in sektor 1 van die dorp beman het.

“Dit bring hoop vir ons as ons sien hoeveel mense die entstof kry en sodoende help om die pandemie hok te slaan,” het Malebate aan Die Pos gesê.

Meer as 400 mense is op Maandag 19 en Dinsdag 20 Julie in die Modimolle/Mookgophong-munisipale gebied ingeënt. Die inenting sou op Woensdag 21 Julie voortgesit word en dan ook by Thusang in Roedtan beskikbaar wees.

“Ons het genoeg entstof om die mense wat opdaag in te ent, maar ons versoek steeds dat inwoners aanlyn moet registreer vir die opvolgenting oor ses weke,” het Du Preez gesê.

Volgens haar sou hulle ook op Woensdag 21 Julie nog ’n span kry om die inentings voor die OK-sentrum toe te dien. Hulle hoop dat dit die lading op die ander punte sal verlig. Sy het ook gesê hulle beoog om so gou moontlik te begin om mense van 35-49 jaar te akkommodeer.

Sy het ’n beroep op hierdie ouderdomsgroep gemaak om betyds aanlyn te registreer.

“Die mense se reaksie is baie goed en ons is baie dankbaar daaroor,” het albei gesê.

Related Articles

Back to top button