Local newsNews

Groentetuin van hoop by kinderhuis

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle beoog om eersdaags ’n uitgebreide groentetuin aan te lê vir die volhoubare voorsiening van gesonde groente aan die 170 kinders in hul sorg.

Volgens Erna Human, voorsitter van Aksie Opknap in Modimolle, het hulle vroeër vanjaar met Antonet Behr van Bela-Bela Urban Farming vergader om groentetuinprojekte in Modimolle te vestig.

Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, het aan Die Pos gesê die kinderhuis het sowat vyf jaar gelede ’n suksesvolle groentetuin gehad, maar weens die gebrek aan vaardigheid en onvoldoende mannekrag het dit tot niet gegaan.

Die kinderhuis het verlede jaar ’n donasie van 20 jong pekanneutbome gekry met die belofte om teen Augustus vanjaar nog 80 bome te ontvang.

“Hierdie bome word ver uitmekaar geplant. Ons beoog om die spasie tussenin vir groente aan te wend,” het sy gesê.

Volgens haar is daar heelwat kinders wat belangstel in tuinbou.

“Dit is ook ’n lewensvaardigheid wat kinders kan aanleer om selfonderhoudend te wees.”

Die kinderhuis het ’n koffiewinkel op die terrein wat heerlike ontbyt en ligte etes bedien en hulle het ook ’n behoefte aan slaai, groente en kruie.

Volgens Behr beoog hulle om so gou moontlik te begin om beddings voor te berei sodat groente teen einde Augustus of vroeg September geplant kan word. Die projek sal in fases aangepak word en die eerste fase behoort teen Desember vanjaar al ’n goeie oes op te lewer, het sy gesê.

Behr het aan Die Pos gesê Bela-Bela Urban Farming is ’n nie-winsgewende instansie wat in 2019 gestig is om kwesbare gemeenskappe te help om kos te voorsien aan behoeftiges en ’n inkomste te verdien deur groente te verkoop.

Die instansie bied opleiding en kostebesparende oplossings vir uitdagings soos gebrek aan water en kompos.

Daar word deurgaans bystand verleen om die volhoubaarheid van hierdie groentetuine te verseker.

Volgens Behr skep hulle ook geleenthede vir tuiniers om die ekstra groente aan winkels of op informele markte te verkoop.

Daar is tans 30 aktiewe tuiniers in Bela-Bela wat in 20 agterplaastuine en twee gemeenskapstuine werk.

“Ek glo elke huisgesin behoort hul eie tamaties en uie te kweek, want dit is so maklik en kan selfs in ’n baie klein tuintjie floreer,” het sy gesê.

Die kinderhuis het tans ’n behoefte aan saailinge, saad en saailingbakkies, kompos en kraalmis.

Belangstellendes wat donasies wil maak of betrokke wil raak by die projek kan vir Antonet Behr bel by tel. 076 365 4777 vir meer inligting.

  • Volg gerus die Facebook-blad: Bela-Bela Urban Farming.

Related Articles

Back to top button