Local newsNews

Boer vertel van ontbering nadat hy erg verbrand

Gert Nieuwenhuizen, ’n boer van Mookgophong wat erge brandwonde tydens ’n veldbrand op sy plaas opgedoen het, is uiteindelik tuis.

Nieuwenhuizen was van 16 Mei tot 19 Julie in die Medi-Clinic in Polokwane waar hy intensiewe behandeling ontvang het.

“Ek kon vanoggend vir die eerste keer stort sedert ek in die brand was,” het hy die afgelope week dankbaar aan Die Pos gesê.

Boonop is hy ook ná die brand in die hospitaal met Covid-19 gediagnoseer.

“Nadat ek Covid-19 gekry het, kon my vrou, Beverly, en my dogter, Debbie Barnard, my nie eens besoek nie,” het hy gesê. Hy het aan Die Pos gesê terwyl hy daar was, het sy suster, swaer en hul seun hom elke dag gebel om vir hom uit die Bybel te lees en te bid.

Hy was erg geskok toe al drie van hulle (sy suster, swaer én hul seun) egter twee dae uit mekaar aan Covid-19 gesterf het. Die gesin se ander seun is sowat twee maande gelede óók aan Covid-19 oorlede.

“Die mense, my familie, wat so vir my gebid het vir gesondheid, het gesterf. Dit was ’n ongelooflike skok,” het hy hartseer vertel.

Nieuwenhuizen sê hy het nie woorde om sy dankbaarheid teenoor die personeel van die hospitaal uit te druk nie. Hy het ook vertel hoe ’n vrou, wat hy nie eens geken het nie, hom daagliks besoek en bemoedig het.

“Daar is soveel wonderlike mense in die lewe en dit gee ’n mens hoop vir die toekoms,” het hy gesê.

Nieuwenhuizen het vertel dat die brand op sy plaas, Grootvalley, wat hom byna sy lewe gekos het, vermoedelik deur twee mans gestig is. Hy wou deur die draad klim om die waterpomp aan te skakel om die brand te bestry, toe die wind skielik gedraai en hom oorval het.

“Ek het geroep, maar niemand het gehoor nie. Theo Coetzee het gesien ek val en het my uit die vlamme gesleep,” het hy gesê.

Sy skoonseun, Gerhard Barnard, wat in Koedoeskop was, het met ’n vriend, Jannie Dercksen van Mookgophong, gereël om hom hospitaal toe te neem, aangesien die plaaslike ambulans glo nie in ’n werkende toestand was nie.

“Ek kan net nie genoeg dankie sê aan al die personeel, dokters, familie en vriende wat my bemoedig en bygestaan het nie.

Almal se gebede het my gedra,” het ’n baie dankbare Nieuwenhuizen gesê.

Related Articles

Back to top button