Local newsNews

Thabazimbi verloor ’n ware staatmaker

Hy het ’n passie gehad om ander mense te help. Niks was vir hom te veel moeite nie.

“Bel vir Ertjies.”

Met hierdie woorde het soveel van Thabazimbi se inwoners feitlik daagliks die hulp van Ertjies de Witt ingeroep wanneer die spreekwoordelike kalf in die put was of ’n noodsituasie opgeduik het. Hy het nooit gehuiwer om inwoners van hulp te wees of ondersteuning te bied nie.

De Witt het sedert 2007 bekend geword as ’n ware staatmaker en ’n leier wat met deernis en liefde daagliks ’n groot verskil in die dorp gemaak het.

Hy het vroeg reeds as lid van die Vryheidsfront-Plus en die Thabazimbi Belasting Betalersvereniging gewys dat hy bereid is om in belang van die dorp en sy inwoners op te tree.

Hy het nie net probleme uitgewys nie, maar was deel van die oplossing van probleme en het jare lank daadwerklik positief bygedra tot die lewensgehalte van Thabazimbi-inwoners.

De Witt is op Vrydag 9 Julie aan Covid-19-verwante komplikasies in die Medi-Clinic in die dorp oorlede.

Sy vrou, Annemie, beskryf hom as ’n man wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie en iemand wat altyd ekstra moeite vir sy medemens gedoen het. “Hy het ’n passie gehad om ander mense te help. Niks was vir hom te veel moeite nie en ek dink juis dit is hierdie eienskap wat mense van hom sal onthou.


Annemie de Witt:
“Ons het nog so baie drome gehad oor wat ons nog wou doen, my man. Ek wil net baie dankie sê vir al die boodskappe en oproepe wat ons ontvang het. Baie dankie aan Thabazimbi Medi-Clinic, die mediese dokters in die dorp. Baie dankie vir almal se omgee. Dis vir ons ’n baie moeilike tyd, maar met die hulp van die Here sal dit weer beter gaan.”

Tokkie Swanepoel:
“Ertjies de Witt was ’n groot man met ’n passie vir sy medemens. As bestuurslid van die Thabazimbi-belastingsbetalersvereniging tot in Desember 2019 het ons saam ’n gedugte span gevorm. Tussen al die werk deur was daar ook altyd tyd vir lag en skerts. Jy het steeds voortgegaan om hulp aan die gemeenskap te verskaf.”

Beverley Spira Kühn:
“Ertjies die staatmaker. Jou lewe is in ’n oogwink kortgeknip en ons het ’n vriend verloor. Ons het so baie planne gehad om mense te help. Jy was onselfsugtig en het uit jou pad gegaan om jou medemens te help. Daar is niemand wat ooit jou skoene sal kan volstaan nie. Rus sag by Jesus se voete.”

Frik Erasmus:
“Ertjies my maat, ek mis al klaar jou telefoonoproep om te hoor hoe gaan dit of wat maak ons vandag? Ek sal nie vergeet wat ons alles saam vermag het nie. Dit was nie vir jou moeite om enige tyd van die dag of nag saam met my te ry om te gaan ondersoek instel na dinge wat nie reg is nie. Ek het jou hoeveel maal gesê jy bederf die inwoners; jy doen te veel vir mense ten koste van jouself. Maat, jy het werklik ’n passie gehad om mense te help en gedroom daarvan om ’n raadslid te word.”

Rina Stander:
“Ou vriend, ons gaan jou mis. Jy was altyd gereed vir ’n uitdaging of projek. Dankie dat jy betrokke was by Kuikenden Kleuterskool, altyd bereid om met krag- of rioolprobleme te help. Dankie dat ons kon deel in jou idees en jou omgeeprojekte. Al die blikkieskos en geld wat jy ingesamel het vir die droogtegeteisterde gebiede is ’n stille getuienis van die man wat jy was. Sterkte vir jou geliefdes wat agterbly.”


Hy het sy vingers stomp gewerk vir vriend en vreemdeling,” het sy gesê. In ’n hegte gemeenskap soos Thabazimbi het Ertjies en Annemie diep in die dorpenaars se harte gekruip.

Hulle het hul drie kinders, Saroné, Ernst en Jaco, met dieselfde familiewaardes grootgemaak. Hy was ook oupa van twee kleinseuns en ’n kleindogter wat almal hul oupa se oogappels was.

“Ertjies was ’n fantastiese man wat so baie vir my en die kinders gedoen het. Hy was die sjef in ons huis en het graag nuwe resepte beproef en met vreugde aan almal voorgesit om te geniet. Hy was ook nie bang om skottelgoed of wasgoed te was nie,” onthou Annemie. “Ons was oneindig lief vir mekaar.”

Dit was geen geheim dat De Witt ’n groot passie vir sy dorp gehad het nie. Hy het gereeld gespog dat hy enigiets sal doen om Thabazimbi op te bou tot een van die beste dorpe in die land, selfs al laat dit soms mense warm onder die kraag.

Hy was iemand met ’n goeie sin vir humor, hy het nie geskrik vir uitdagings nie en was by verskeie liefdadigheidsprojekte in en om die dorp betrokke.

Related Articles

Back to top button