Local newsNews

Tehuis-suster tree ná baie jare af

Om met bejaardes te werk verg passie, toewyding, deernis en geduld.

Iemand wat oor al hierdie eienskappe en meer beskik, is sr. Hannetjie Schutte (74) wat op Woensdag 30 Junie ná 23 jaar by die Naboom Tuiste vir Bejaardes die tuig neergelê het.

Schutte is in Mookgophong gebore en het op ’n plaas tussen Crecy en Tuinplaas grootgeword. Sy is ’n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in die dorp. Sy het haar algemene opleiding as verpleegsuster in die destydse Pietersburg-hospitaal voltooi en haar opleiding as kraamsuster in Krugersdorp.

Sy is in 1969 met Pieter Schutte getroud en het ’n seun en dogter wat ook oud-Hansies is. Pieter is in 1998 dood.

Schutte het aanvanklik by die departement van gesondheid as suster by munisipale klinieke gewerk en later die kraamafdeling in die Mookgophong-kliniek begin.

Sy was ook betrokke by die stigting van die gesinsbeplanningskliniek in die dorp. Sy het saam met Marie Dercksen, die eerste matrone van die tehuis vir bejaardes, op 1 Januarie 1992 die deure van die Lewensvreug Tuiste oopgesluit en op 2 Januarie daardie jaar is die eerste vyf inwoners ontvang.

“Dit was so teen 10:00 daardie oggend toe ons besef dat ons nie nagpersoneel het nie en ons inderhaas ’n suster moes kry,” het sy skertsend aan Die Pos vertel.

“Die bestuur het elke keer so vyf meer inwoners ingeneem en die tehuis is later vergroot tot 60 inwoners en nog later na die 80 wat daar tans woon.”

Volgens Schutte het dit die eerste paar maande maar moeilik gegaan.

“Ons moes eers ’n oortrokke fasiliteit by die bank reël om salarisse te kon betaal. Eers wanneer ons die regeringsubsidie ontvang het, kon ons die oortrokke bedrag vereffen en dan maar weer reël vir die volgende maand se uitgawes,” het sy met heimwee vertel.

Sy is van mening dat dit deur goeie, nougesette finansiële bestuur is dat hulle later in staat was om geld te belê vir die “moeilike” tye.

Sy onthou ook van baie pret en vrolike tye wat hulle saam gehad het, maar daar was ook tye wat hulle hartseer was en saam met inwoners gehuil het wanneer ’n geliefde gesterf het.

”’n Bejaarde is die wysste wese met die oorspronklikste verduidelikings van ’n saak. Hulle het die snaaksste sêgoed. Hulle is ook die dierbaarste en teerste mense,” het sy gesê.

“Die Here was goed vir ons. Dit was net een groot plesier om deel te wees van die wonderlike inwoners wat ons versorg het,” het sy gesê.

Schutte het vir ’n kort tydperk nie by die instelling gewerk nie, maar het altesame 23 diensjare by die Naboom Tehuis vir Bejaardes, soos dit nou bekend staan, gewerk.

Sy sou reeds in 2019 die tuig neergelê het, maar het toe nog aangebly. Sy het gesê die tydperk tydens die pandemie het maar sy tol geestelike en emosioneel geëis.

“Dankie aan die personeel en bestuur vir ’n wonderlike tyd in my lewe. God seën julle,” was haar afskeidsgroet.

Baie van die personeellede wat saam met Schutte by die tehuis begin werk het, is al oorlede of het reeds geruime tyd gelede afgetree.

“Sr. Schutte was een van daardie mense wat haar werk met deernis uitgevoer het en almal was lief vir haar. Sy was soos familie vir elkeen van die bejaardes. Sy het haar beroep geken en niemand ooit hoër geag as die volgende persoon nie. Sy is iemand wat ’n mens graag in jou lewe wil ken,” het Hercules Louw, bestuurder van die tehuis, aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button