Local newsNews

Registrasie vir verkiesing uitgestel

Die registrasienaweek vir die beplande munisipaleverkiesing in Oktober gaan nie meer die naweek van 17-18 Julie plaasvind nie.

Die Onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het bekend gemaak dat registrasies nou van Saterdag 31 Julie tot Sondag 1 Augustus by die 23 146 registrasiepunte regoor die land sal plaasvind.

Mense wat van adres verander het, word deur die OVK aangeraai om hul inligting tydens dié geleentheid op te dateer sodat hulle in Oktober by die korrekte stempunte kan stem.

Die beplande datum vir die verkiesing is Woensdag 27 Oktober, maar dit moet nog amptelik geproklameer word.

Kiesers kan voor die registrasienaweek hul persoonlike detail opdateer deur hul naaste OVK-kantoor te skakel of om dit op die OVK se webtuiste aan te pas.

Mense wat wil herregistreer hoef slegs hul ID-dokument byderhand te hê. Geen bewys van adres hoef tydens die registrasie getoon te word nie, sê die OVK.

Kiesers bo 18 jaar word versoek om hul eie penne na die registrasiepunt te bring om die verspreiding van die Covid-19-virus te beperk.

Volgens ’n woordvoerder van die plaaslike OVK-kantoor in Bela-Bela kan bejaardes of gestremdes die OVK direk skakel en reëlings tref dat ’n beampte hul tuis besoek.

Al die nodige Covid-19-maatreëls sal gevolg word. Skakel die OVK-kantoor in Bela-Bela by tel. (014) 736 8006.

Vir verdere navrae kan mense die OVK se webtuiste besoek by www.elections.org.za(.)

Die nasionale inbelsentrum kan ook geskakel word by tel 0800 11 8000.

Mense kan ook hul registrasiestatus nagaan deur hul ID-nommer na tel. 32810 te SMS. Elke SMS kos R1.

Related Articles

Back to top button