Local newsNews

Bekende vrou van Bela-Bela oorlede

Bela-Bela-inwoners het die afgelope week afskeid geneem van Alida du Toit (71) wat op Saterdag 10 Julie oorlede is.

Volgens haar vriendin, Charmaine Griessel, het Du Toit Saterdag haar buurvrou om hulp gevra nadat sy asemnood ervaar het.

’n Ambulans is uitgeroep na haar woning, maar sy het kort daarna gesterf. Griessel het gesê dat Du Toit het aan ’n hartaanval gesterf, maar hulle vermoed dat sy ook Covid-19 onder lede gehad het.

Du Toit is oorspronklik van Parys in die Vrystaat en het die afgelope 16 jaar op Klein Begin in die Bela-Bela-omgewing gewoon.

Sy sal onthou word vir haar vaardigheid met naaldwerk. Sy het ’n deeglike kennis van materiaalstowwe gehad en het graag raad gegee by die uitsoek van geskikte lap.

Sy was ’n mens wat nie kon stilsit nie en was kort-kort in die materiaalwinkel, het Griessel gesê.

“Sy was ’n enkellopende vrou en baie geliefd onder haar vriende en familie. Sy was ’n buitelugmens en haar bakkie was altyd gepak met kampeertoerusting,” het Griessel vertel.

“Almal wat haar geken het, se harte is gebreek. Sy laat ’n groot leemte in haar vriende se lewens wat moeilik gevul sal word. Sy was ’n liefdevolle, toegewyde mens, ’n anker vir haar naasbestaandes en ’n vriendin duisend. Haar lag was aansteeklik en sy het altyd nuwe hoop aan ander gegee.”

“Ons sal haar onthou as een van God se kosbaarste besittings aan ons. Duisende engele staan vir haar en wag en sing van blydskap deur die nag.”

Haar gedenkdiens is reeds verlede week op Klein Begin gehou.

Related Articles

Back to top button