Local newsNews

TLU maak stem dik teen voorgestelde wapenwetgewing

’n Ad-hoc groep, waarvan TLU SA deel is, het besluit om verskeie rolspelers byeen te kry om die omstrede wetsontwerp oor vuurwapens te bespreek. Volgens die groep kom die voorgestelde wysigings neer op ’n vorm van onteiening van eiendom.

’n Vergadering is op Woensdag 23 Junie by TLU SA se hoofkantoor in Pretoria gehou.

Mense wat nie teenwoordig kon wees nie, het die vergadering aanlyn meegemaak.

Volgens Drickus Botha, streeksbestuurder van die Potgietersrus DLU-omgewing, is hierdie ’n informele groep wat die beskerming van eiendomsreg op die hart dra en bestaan uit landbouverteenwoordigers, burgerlikes en burgerregteorganisasies, opposisiepartye en akademici, asook geloofsinstellings.

Die groep vergader gereeld om beleidsraamwerke wat eiendomsreg skend of ondermyn, te bespreek en onderlinge standpunte, optrede en projekte te oorweeg.

“Dit was goed om ’n uiteenlopend groep organisasies byeen te hê. Dit is baie duidelik dat daar nou daadwerklik opgetree moet word om te voorkom dat hierdie soort wetgewing deurgevoer word,” het Henry Geldenhuys, president van TLU SA, in ’n mediaverklaring gesê.

Daar word ook ernstige probleme ervaar met die administrasie en uitvoerbaarheid van bestaande wetgewing en volgens Geldenhuys is dit belaglik om te dink nuwe wetgewing, wat baie meer administrasie sal verg, sal suksesvol ingestel kan word.

TLU het bevestig dat hulle die wetsontwerp in geheel afkeur en hulle nie daaraan sal onderwerp nie.

Die groep stem saam dat die wetsontwerp nog deur die parlementêre proses moet vorder, maar dat daar nou reeds voorsiening gemaak moet word vir moontlike regsgedinge.

“Intussen doen ons ’n dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om nie apaties te staan teenoor belangrike sake soos hierdie, wat die basiese vryhede soos dié van keuse, aan bande lê nie. Raak betrokke, laat jou stem hoor, wees bewus van jou veiligheid en wat jou te doen staan,” was Geldenhuys se boodskap.

Die groep het ook gemaan dat mense nie roekeloos moet optree nie, maar deel moet word van ’n georganiseerde span wat hierdie wetgewing teenstaan.

Navrae kan gerig word aan Henry Geldenhuys, president van TLU SA, by tel. 083 560 1273 of Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, by tel. 082 466 4470.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button