Local newsNews

Tehuis spog met nuwe perseel

Die Sonstraal Tehuis, wat voltydse verblyf bied aan volwasse gestremdes, het einde Mei vanjaar in hul eie perseel in Modimolle ingetrek.

Die tehuis, wat sy deure op Maandag 1 Februarie in Modimolle geopen het, het aanvanklik die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys se werksentrum gebruik.

Hantie van Aardt, hoof van die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys, het die afgelope week tydens ’n onderhoud aan Die Pos gesê die tehuis is geopen weens die dringende behoefte aan voltydse verblyf vir volwassenes met fisieke- en verstandelike gestremdhede.

“Ons kon intussen hierdie perseel vir die tehuis bekom sodat ons dit ten volle kan inrig om tot agt mense te huisves. Ons is opreg dankbaar vir al die donasies en steun wat ons gekry het om hierdie droom te bewaarheid.”

Sy het gesê die sentrum spog met liefde- volle personeellede en ’n huislike atmosfeer.

“Ons bied ook verskeie werkwinkels en stimuleringsprogramme vir die inwoners en dagbesoekers aan.”

Daar is ’n daaglikse oefenprogram, asook weeklikse perdry- en swemaktiwiteite. Volgens Van Aardt is die inwoners baie gelukkig in “hulle huis”.

Die tehuis het tans drie permanente inwoners en een gereelde dagbesoeker. Volgens Van Aardt is daar nog vyf plekke beskikbaar vir inwoners ouer as 18 jaar.

Dagbesoekers word verwelkom en neem deel aan al die groepsaktiwiteite. Daar word ook aan hulle etes voorsien.

Die Sonstraal Skool vir Buitengewone Onderwys en die Sonstraal Tehuis is privaat instellings wat deur dieselfde beheerliggaam bestuur word.

Die skool ontvang geen regeringshulp nie en is geregistreer as ’n nie-winsgewende organisasie wat art. 18A-sertifikate aan donateurs kan voorsien.

Geld vir die skool word gegenereer deur verskeie fondsinsamelingsprojekte, donasies en skoolfonds wat deur die ouers betaal word.

Mense wat graag betrokke wil raak, kan gerus die skool se webwerf besoek by www.sonstralers.wixsite.com of vir Van Aardt bel by tel. 083 612 0975.

Related Articles

Back to top button