Local newsNews

Renosterwesies vind liefde

“Liefde oorwin alles,” is die leuse by die Rhino Orphanage, ’n nie-winsgewende instansie waar renosterwesies met die grootste liefde en deernis in die Waterberg-omgewing grootgemaak word.

Die Pos het onlangs berig oor die swartrenosterkalfie Robynne wat in die Lapala Wildernis- natuurreservaat gevind is waar sy alleen ronddwaal.

Die kalfie is intussen na die Rhino Orphanage gebring waar sy die volgende drie tot vier jaar sal deurbring voordat sy weer na Lapala sal terugkeer.

Volgens Arrie van Deventer, stigter en besturende direkteur van die Rhino Orphanage, het Robynne aanvanklik gesukkel om aan te pas by die “weeshuis”.

Sy was baie skrikkerig om kennis te maak met die ander wesies omdat sy jonger en heelwat kleiner as hulle is, het hy gesê. Intussen het die sentrum ook ’n sewe maande oue witrenosterkalfie met die naam Duane gekry. Hy en Robynne is nou onafskeidbaar en deel dieselfde boma waar hulle bedags speel en slaap.

Saans gaan al die kalfies na hul slaapvertrekke waar hulle om 20:00 melkbottels kry. Die sentrum bied behoorlik vyfsterakkommodasie met slaapvertrekke wat lugversorgers het vir die warm somersweer en infrarooiligte vir hitte in die winter.

Van Deventer het aan Die Pos vertel Duane se ma is op Vrydag 18 Junie deur renosterstropers doodgemaak tydens ’n grusame aanval op ’n privaat wildreservaat. Die kalfie is erg getraumatiseer deur die insident en wou aanvanklik geen versorgers naby hom toelaat nie.

Hy het oor en oor teen die versperrings vasgestorm en in die verste hoek van die vertrek probeer skuil.

Die versorgers se volgehoue liefde en deernis het die deurslag gegee sodat hy binne drie dae sy nuwe mens-ma toegelaat het om styf teen hom te sit en vir hom ’n bottel te gee. Die versorgers koer behoorlik om die kalfies en praat met hulle nes ’n mens met klein kindertjies sou praat.

Renosterkalfies drink moedersmelk tot ongeveer 16-18 maande. Swartrenosters vreet ook blare in die veld terwyl witrenosters veldgrasse vreet.

By die Rhino Orphanage kry die kalfies daagliks grasvoer en spesiale droeë voerblokkies vir wildediere.

Die Rhino Orphanage ontvang geen regeringshulp nie en maak staat op donasies vir hul voortbestaan.

Belangstellendes kan die sentrum se Facebook-blad, The Rhino Orphanage, besoek of vir Arrie van Deventer bel by tel. 083 645 4398 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button