Local newsNews

Covid-19 eis Bela-Bela se geliefde Patsy

Patricia Louise “Patsy” de Wit (71) is op Saterdag 5 Junie oorlede kort nadat sy in die Montana-hospitaal in Pretoria opgeneem is.

Volgens haar familie is sy in Mei met longontsteking, wat vererger is deur Covid-19, by die Phodi Clinic in Bela-Bela opgeneem en later na Montana oorgeplaas.

De Wit was sedert 2019 ’n inwoner van die Tuin Tuiste-aftreeoord in die dorp.

Sy is in Johannesburg gebore en het ’n tweelingsuster, Teresa Kruger, asook ’n broer, Glen Barnard. Volgens die familie was sy en haar suster onafskeidbaar.

Sy het haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool DF Malan en die Hoër Handelskool Parktown voltooi en veral in hokkie presteer.

Sy en haar suster het ná hul skooljare by die destydse Volkskas Bank in Johannesburg begin werk. Die tweeling het groot pret onder die personeel gehad omdat mense hulle dikwels met mekaar verwar het.

De Wit is in 1970 met haar man, Adolf (Dolf), getroud en hulle was 51 jaar lank mekaar se steunpilare.

Dolf, ’n voormalige bankbestuurder, is in 2017 oorlede. Patsy word onthou as ’n geliefde, besondere en spesiale mens met ’n sprankelende persoonlikheid wat maklik oor die weg gekom het met almal wat haar pad gekruis het.

Sy was lief vir kuier, lag en het diep spore in mense se harte getrap.

Vir haar kinders was sy ’n ma duisend wat met ’n moeder se hart altyd raad gehad en moeite gedoen het om haar gesin op te beur, het haar familie gesê.

Sy word verder onthou as ’n sterk vrou met ’n ongelooflike veggees en liefde vir haar man en kinders.

Haar gedenkdiens het reeds vanuit die NG Kerk Wes-gemeente in Bela-Bela plaasgevind.

Sy laat drie kinders, aangetroude familie en twee kleindogters agter.

’n Privaat seremonie sal in Augustus in Barrydale plaasvind aangesien dit haar wens was om langs haar oorlede man begrawe te word.

Related Articles

Back to top button