Local newsNews

Vlak-4: Eetplekke byt wéér die spit af

Asof die kosbedryf nie al genoeg skade gelei het weens die pandemie nie, moes hulle ook weer sedert verlede week hulle deure sluit vir aansit-etes.

Die Pos het met ’n paar restauranteienaars in Mookgophong gesels oor die nuwe uitdagings wat weer op hulle wag.

“Strenger inperking het die onderneming geldelik verder geknou,” het Marelee Erasmus, eienaar van bekende kettinggroepeetplek, gesê.

“Dit het ook ’n invloed op die personeel wat verminderde ure werk. Die pandemie vrywaar ons egter nie van ons verantwoordelikheid teenoor die lewe nie. Ons moet aangaan en bly planne maak.”

Dina Marais, eienaar van ’n eetplekkie wat onlangs sy deure geopen het, het gesê:

“Ons het ons beplanning so ’n bietjie verander om te probeer help met die gevaar van Covid-19-verspreiding en werk streng op bestellings. Ons is wel in ’n baie bevoorregte posisie om nog goed te kan aangaan met ons rou produkte. Ons Hemelse Vader seën ons met baie kliënte wat by ons bestel.”

Pieter Neethling, eienaar van ’n bistro- en koffiewinkel, het gesê:

“Daar is baie mense wat verkies om binne te sit as om ’n wegneem-ete te kry. Baie is ook maar nog skrikkerig om siek te word. Die inperking raak ons beslis, maar ons glo en vertrou en ons gereelde ondersteuners sal altyd daar wees. Ons is dankbaar.”

“Die uitwerking van die nuutste grendeltydaankondiging was vernietigend op ons ondernemings wat reeds swaar getref is met die vorige inperkings,” het André Pienaar aan Die Pos gesê.

“Die restaurant op my plaas moes sonder waarskuwing sy deure sluit, ten spyte van die feit dat ons ’n buitelugrestaurant is met baie vars lug en sosiale afstande gehandhaaf het.

“Ons was genoodsaak om dié Vadersdagete ook te kanselleer.”

Die Naboom Kontreimark moes ook sy deure sluit. Dit laat 109 uitstallers sonder die ekstra inkomste wat in dié tyd broodnodig is.

Twee vroue van die dorp, wat verkies het om anoniem te bly, het gesê hulle geniet die padkafee-styl baie en dat hulle beslis keer op keer weer die eetplekke sal ondersteun wat padkafee’s aanbied.

“Niemand kan sien wat jy eet nie,” het een vrou skertsend gesê.

Related Articles

Back to top button