Local newsNews

Toerismebedryf keelaf gesny deur nuwe vlak-4 inperkings

Die nuwe vlak-4 inperkings, wat vanaf Maandag 28 Junie geld, is vir baie lede van die toerismebedryf die spreekwoordelike laaste strooi wat die kameel se rug breek.

Die Pos het met Judy Groenewald, koördineerder van Waterberg Toerisme, ’n nie-winsgedrewe instansie wat die toerismebedryf in die Waterberg-distrik bedien, gesels.

“Die toerismebedryf het gereed gemaak vir die winterskoolvakansie wat eersdaags begin, maar met die skielike aankondiging van strenger maatreëls en die verbod op vakansiereisigers vanaf Gauteng, sien baie sakeondernemings geen lig aan die einde van die tonnel nie,” het sy gesê.

Daar word geraam dat meer as die helfte van die toeriste in die Waterberg-distrik vanuit Gauteng kom. Volgens finansiële kenners sou dit minstens twee tot drie jaar neem vir die meeste toerismeondernemings om te herstel van die impak van die eerste grendeltydperk in Maart verlede jaar.

Met ’n derde grendeltydperk op hande is die kanse goed dat baie ondernemings se deure permanent gaan sluit, het sy gesê. Volgens Groenewald wil Waterberg Toerisme al die sakeondernemings in ons omgewing aanspoor om positiewe bemarkingsstrategieë aan te wend.

Daar is baie redes hoekom die Waterberg-distrik die gewildste keuse vir Gautengers is. Een daarvan is die kort reisafstand per motor. Die kleiner dorpe is ook ver uit mekaar met ’n laer bevolkingsdigtheid wat dit moontlik maak om deurgaans sosiale afstand te hou.

Die meeste soorte akkommodasie is ook afgeleë op wildsplase, lodges en natuurreservate sodat gesinne of groepe hul kontak met ander mense tot ’n minimum kan beperk.

Daarmee saam is die heerlike sonskynweer ideaal vir buitelugaktiwiteite; selfs in die winter. Vakansiegangers kan steeds ’n hele rits prettige dinge doen ten spyte van die grendeltyd, soos stap- en drafroetes, bergfietsry, rotsklim, voëlkykuitstappies en wildbesigtiging.

Baie instansies laat ook dagbesoekers toe.

“Ons wil inwoners en ander sakelui vra om die plaaslike toerismebedryf heelhartig te ondersteun,” het sy gesê.

Toeriste word ook versoek om nie hul verblyfreëlings te kanselleer nie, maar net die datums voorlopig aan te skuif.

Besoek gerus die webwerf, www.waterbergtourism.com of bel vir Judy Groenewald by tel. 083 285 2979 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button