Local newsNews

Maak Thabazimbi mooi!

“As almal ’n klein bietjie moeite doen, kan Thabazimbi weer ’n pragdorp wees.”

Met hierdie woorde, vertel Ané Esterhuizen, sentrumbestuurder van die Spar-sentrum, is die idee gebore om Thabazimbi te omskep in ’n spekboomparadys.

Wanneer ’n mens deesdae in Van der Bijlstraat afry, verkyk jy jou aan die lowergroen spekbome wat ruig op die sypaadjies van dié straat groei.

Die waarheid is egter dat dit nie altyd só gelyk het nie, maar met ’n klein bietjie moeite het Esterhuizen en ’n span werkers by dié sentrum dit reggekry om dié straat in ’n pragplek te omskep.

“Toe ek 10 jaar gelede by die sentrum begin werk het, was hier geen plante nie,” onthou Esterhuizen.

“Mense het hier kom sit en hul middagete geëeet en in baie gevalle sommer net hul rommel daar gelos. Mettertyd het mense ook sommer hul huishoudelike rommel net daar gestrooi en dit het baie sleg gelyk,” vertel sy.

Dit is juis dié seeroog wat Esterhuizen en haar span genoodsaak het om self iets te doen. Sy wil ander inwoners aanmoedig om self hul moue op te rol en op ’n klein manier ’n verskil te maak.

“Ons almal weet dat water ’n groot probleem in ons dorp is en aanvanklik het die onderhoud van die tuine ’n duur storie geraak.”

“Ek het deur die dorp gery en plante raaksien wat goed lyk en by ander inwoners steggies gekry. Voordat ons ons oë kon uitvee, het ons tuine begin uitbrei.”

Deur die jare het talle boere by Esterhuizen aangeklop om self van haar steggies te plant. Van dié steggies het dit selfs al gemaak tot in die droogtegeteisterde Karoo waar dit as voer aangewend word.

Munisipale speaker Thane Hearne onder-steun die projek en moedig ook inwoners aan om deel te word daarvan.

“Inwoners besef nie altyd dat hulle ook ’n verskil kan maak nie,” het sy vertel.

“Elke mens wat bereid is om die randstene en sypaadjies voor hul eie erwe en sakeondernemings te onderhou, is welkom om dit te doen solank dit nie met munisipale infrastruktuur inmeng nie,” het sy gesê.

Wat eens begin het as ’n nederige poging om ’n enkele sypaadjie skoon en netjies te hou, het oor die jare gegroei tot ’n gemeenskapsprojek wat almal aan die praat het.

Related Articles

Back to top button