Local newsNews

Covid-19 eis versekeringsmakelaar

Corrie Jansen van Vuuren (62), ’n jarelange inwoner van Modimolle, is op Saterdag 19 Junie aan Covid-verwante oorsake oorlede.

Sy gesin het hom as hul hul anker en steunpilaar beskryf.

Elda Jansen van Vuuren, sy eggenoot van 36 jaar, het aan Die Pos gesê haar man het nooit siek geword nie; nie eens met verkoue nie.

“Hy het in Maart vanjaar ’n hartoperasie ondergaan om ’n stent in een van die kroonslagare te plaas en moes in April weer ’n operasie ondergaan om nog twee stents te ontvang.”

Volgens Elda het hulle gedink Corrie het bronchitis toe hy die week vantevore siek geword het. Hy is op Dinsdag 15 Junie dokter toe waarna die dokter twee dae later bevestig het dat hy positief getoets het vir Covid-19.

Teen Vrydag 18 Junie het sy toestand só versleg dat hy per ambulans na die Phodi Clinic in Bela-Bela geneem is waar hy die volgende dag oorlede is.

Die egpaar het die afgelope 18 jaar in Modimolle gewoon waar Corrie ’n korttermynversekeringsmakelaar was. Die egpaar het drie kinders waarvan die oudste seun, Corné (33), die afgelope paar jaar in Engeland saam met sy vrou, Suzette Maree, en hul dogtertjie (2) woon. Hul bababoetie maak eersdaag sy opwagting.

Die egpaar se twee dogters, Nadine (29) en Chantelle (26), het hul skoolloopbane aan Hoërskool Nylstroom voltooi waarna albei vir ’n tydperk saam met hul pa in sy onderneming gewerk het.

Nadine woon sedert 2017 in Durbanville in die Wes-Kaap en Chantelle het in 2020 ook daarheen verhuis.

Volgens Elda was verjaardae en Kersfees spesiale gesinstye, veral toe die kinders nog in die huis was.

Sy onthou dat Corrie altyd op sy gelukkigste was wanneer die kinders kom kuier het.

“Corrie was altyd opgeruimd en sou nooit ’n negatiewe woord oor enigiemand sê nie. Hy het werklik sy gesin op die hande gedra.”

Die gedenkdiens is op Woensdag 30 Junie aanlyn gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button