Local newsNews

Modimolle-sakeman sterf in motorongeluk

Dirk Botha (44) van Modimolle sal onthou word vir die liefdevolle, musikale mens wat hy was.

Botha het op Saterdag 19 Junie omstreeks 20:30 gesterf tydens ’n noodlottige botsing met ’n vragmotor op die R101-pad net buite Bela-Bela. Botha was vanaf Bela-Bela na sy huis in Modimolle op reis in sy wit Toyota dubbelkajuitbakkie.

Volgens sy broers, Faan en Heinrich Botha, wat die ongelukstoneel besoek en die wrakstukke van Dirk se voertuig vroeg die Sondagoggend gesien het, was die kajuit en regterkant van die bakkie opgefrommel weens die impak van die ongeluk.

Die aste van die laaste twee rye agterwiele van die vragmotor se sleepwa het vermoedelik gebreek, want dit was heeltemal skeef, het Heinrich aan Die Pos vertel.

Volgens nooddienswerkers, wat kort ná die ongeluk op die toneel was, het die vragmotor, wat ongeveer 20 m lank was, vermoedelik dwarsoor die pad voor Botha se voertuig ingedraai.

Inwoners beweer daar is ’n blindekol om die draai in die pad, reg by die ingang na die Bosveld Diesel Depot, wat moontlik die vragmotorbestuurder verhinder het om die aankomende verkeer te sien. Daardie gedeelte van die pad is ook bykans stikdonker weens die afwesigheid van straatligte wat gemaak het dat Botha vermoedelik nie die ekstra lang sleepwa agter die vragmotor kon sien nie.

Hy is op die toneel dood verklaar.

Die Bela-Bela-polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag teen die vragmotorbestuurder.

Lariza Vermeulen:
Dit het altyd gelyk asof Dirk die lewe geniet. Sy siel het kalmte en skoonheid uitgestraal. Hy was so lief daarvoor om nuwe kos en ongewone resepte te probeer. Hy het altyd gesê: Wens ons kon meer afdae as af dae hê. Nou is jy op die beste vakansie. Rus in vrede, Dirk.

Hy was sy broers en suster, Hildegard Staats, se kleinboet. Die Botha-gesin is oorspronklik van Heidelberg (in die destydse Transvaal) waar hul pa, Dirk Botha snr., ’n gemengde boerdery bedryf het.

Ná hul ma, Luïse, se dood in 2008 weens kanker, het hul pa die plaas aan Faan en sy vrou Elmari, oorhandig en na Modimolle verhuis waar hy die afgelope 10 jaar in die Kokanje-aftreeoord woon.

Heinrich, sy vrou, Corné, en hul drie dogters woon steeds in Heidelberg waar hulle ’n eie onderneming behartig.

Hildegard is ’n onderwyser wat saam met haar man, Isak, en hul drie kinders in Port Elizabeth woon. Hulle het vroeër ook in Modimolle gewoon.

Die Botha-familie het hegte bande en het in Desember 2020 saam vakansie gehou in Jeffreysbaai in die Oos Kaap.

Dirk het destyds omtrent dieselfde tyd as sy pa na Modimolle verhuis waar hy die afgelope 11 jaar sy eie sakeonderneming, Go Big Printing, behartig het.

Hy was ’n grafiese ontwerper van beroep maar was vroeër jare ook redakteur van plaaslike koerante in Heidelberg en Nigel.

Maryke Smit Claassen:
Dirk, as ek aan jou dink sal dit my altyd laat glimlag. Ons het soveel avonture saam gehad en jy het my aan malle-Heidelberg voorgestel. Jy het na die wêreld gekyk op jou unieke, diep manier. In ons laaste gesprek was jy so positief ten spyte van uitdagings. Jy het gesê dat jy met genade van Bo deur alles gedra word. Ek hoop Anneke sal grootword met die wete dat jy ontsaglik lief is (want liefde vergaan mos nie) vir haar. Sien jou eendag in die hemel.

Volgens Botha se familie en vriende was hy ’n begaafde sanger en musikant wat sy eie musiek geskryf het en klavier, kitaar, mondfluitjie en selfs penniefluitjie gespeel het.

Hy was bemind en het graag almal om hom met sy musiek vermaak. Hy was aktief betrokke in die Koinonia-gemeente in Modimolle en het soms in die kerk se orkes gespeel tydens eredienste.

Sy kreatiewe talent is ook ingespan om pragtige foto’s te neem. Hy was ’n kranige skaakspeler wat van uitdagings gehou het.

Die kliënte in Modimolle en omgewing kan getuig van sy vriendelike diens en hardwerkendheid.

Sy bestaan het gewentel om sy dogter, Anneke(7), nou in gr.1 by Laerskool Nylstroom in Modimolle. Sy familie het beaam dat hy alles in sy vermoë gedoen het om vir haar te sorg. Wanneer hulle saam gekuier het oor naweke het hulle die heel graagste in die swembad baljaar.

Volgens sy familie was Anneke die liggie in sy lewe. Dirk laat sy dogter, Anneke en haar ma, Linda Eberwein, sy pa, broers en suster en hul gesinne agter.

Teen druktyd was reëlings in verband met sy gedenkdiens nog nie bekend gemaak nie.

Related Articles

Back to top button