Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die Bela-Bela-polisie stel ondersoek in nadat daar op Vrydag 18 Junie byna ’n rooftog by die Pep-klerewinkel in Chris Hanistraat plaasgevind het. Volgens ’n polisiewoordvoerder het ’n verdagte die winkel kort nadat dit die oggend geopen het betree en die kassier genader. Die verdagte het glo aangedring op ’n kredietfasiliteit. Drie ander verdagtes het intussen ook die winkel betree en een het na bewering ’n vuurwapen aan die kassier gewys. Die vuurwapen is nie op haar gerig nie. Die kassier het uit die winkel gehardloop om hulp te soek waarna die verdagtes op die vlug geslaan het. Volgens die polisiewoordvoerder is niks geroof nie.
Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika se gemeente in Phagameng, Modimolle, het ’n donasie van komberse ontvang van die susters van die NG Kerk Waterberg-gemeente in Modimolle. Die komberse is op Vrydag 11 Junie aan vier dagsorgsentrums in Phagameng uitgedeel. Die vier instellings wat gebaat het by die skenking, is Marie Day Care Centre, Hlokomelo Pre School, Nthuteng Daycare Centre en Phagameng Crèche. Die personeel het gesê die ruim skenking van komberse het hulle in staat gestel om vir die kleuters ’n snoesige warm middagslapie te verseker. Hulle kan ook die komberse op die koue sementvloere gooi waar die kleuters sit en speel. Op die foto is die vooraansig van die Marie Day Care Centre.
’n Tak van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) is aan die begin van Junie in Bela-Bela tot stand gebring. Die tak staan bekend as die Buyskop-eenheid. Die SAWV is sedert 2009 gemoeid met gemeenskapswerk, opheffingsprojekte en om bystand en sorg aan voormalige Weermagveterane te bied. Oudlede kom in aanmerking vir lidmaatskap. Die huidige takbestuur in Bela-Bela bestaan uit Willie Conradie (voorsitter), Ben Uys (visevoorsitter), Stolla Stoltz (adjudant), Lammie Henn (samajoor) en Mary Stoltz (kommunikasie). Vir navrae bel vir Mary by tel. 078 130 1320. Op die foto is die nuwe lede van Bela-Bela tydens die stigting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button