Local newsNews

Bekende in motorfietskringe sterf

Inwoners van Bela-Bela het met skok verneem van die dood van Dirk Badenhorst (49) op Maandag 21 Junie in die Phodi-kliniek in die dorp.

Hy is ’n bekende in die motorfietsryersgemeenskap van die omgewing en was bekend vir sy verspreiding van die Evangelie.

Volgens sy vrou, Annelie, het hy na alle waarskynlikheid die Covid-19-virus tydens ’n familie-geleentheid opgedoen. ’n Paar ander familielede het ook positief vir die virus getoets.

“Ons al twee het baie siek geword en ons het in self-isolasie gegaan. Toe Dirk verswak het, het ons hom na die hospitaal geneem. Skaars ’n paar dae later het ons die oproep van die hospitaal ontvang dat hy oorlede is.”

Sy gesin het aan Die Pos gesê dit voel asof die rots waarop hulle gestaan het, onder hulle uitgeruk is.

Badenhorst is in 1971 in Carletonville gebore.

Dirk het ’n motorfiets as geskenk gekry. Hy was aanvanklik maar huiwerig en het gesê die gevaar van motorfietsry is te hoog. Mettertyd het hy gewoond geraak aan die gedagte en die dag toe hy op sy ysterperd klim en die adrenalien vloei, wou hy nie weer afklim nie.

Hy en Annelie het ontmoet toe hulle 16 jaar oud was. Badenhorst het sy vakleerlingskap by die destydse Transnet begin en later in die mynbedryf gewerk.

Hy en Annelie is in 1993 getroud en het twee seuns gehad.

Die egpaar het aanvanklik in Barberton gebly, maar daarna na Bethal en toe na Bela-Bela verhuis.

Dirk het tydens sy dood vir Glencore Technologies gewerk.

Hy het as buitemuurse student later in sy loopbaan ’n graad in projekbestuur van die Universiteit van Pretoria verwerf, asook kwalifikasies in gesondheid- en veiligheidsbestuur.

Die Badenhorst-egpaar se passie vir motorfietse het hulle gelei na die Christelike motorfiets assosiasie (CMA) waar hulle gereelde byeenkomste bygewoon en by verskeie uitreikprojekte betrokke was waar hulle gebroke mense na die Here gelei het.

“Elke byeenkoms, of ons nou ver moes ry of in nat weer in ’n tent was vir Dirk ’n wonderlike geleentheid. Hy het nooit gekla nie. Dit was ’n voorreg en ek is trots om hom my man te kon noem, want hy het stukkende mense die pad gewys,” het sy gesê.

“Ek kyk met liefde terug op my verhouding met my man.”

Sy begrafnis word beplan vir Saterdag 26 Junie om 11:00 by die Nuwe Lewe-aanbiddingsentrum in Bela-Bela.

’n Spesiale motorfietsrit sal die oggend in die dorp plaasvind ter nagedagtenis aan Dirk en die invloed wat hy op ander se lewens gehad het.

Die gesin bedank almal wat ’n boodskap of oproep in hierdie moeilike tyd gemaak het. Groot dank ook aan dr. Gerhard Grobler, Dirk se kollegas, die personeel by die Phodi-kliniek en past. Michael en Belinda Dippenaar.

Related Articles

Back to top button