Local newsNews

Bejaarde egpaar se huis in puin gelê

’n Bejaarde egpaar van Mookgophong het ter nouernood aan die dood ontkom toe hul huis Sondagnag 20 Junie deur ’n brand in puin gelê is.

Hulle twee geliefde hondjies is egter dood in die brand. Net ’n paar koppies met blou blommetjies op het op Maandag 21 Junie ongedeerd op die kombuisrak tussen die as gestaan.

André (83) en Henna (81) Viljoen het reeds vroeg die aand gaan inkruip. Hy het om 22:00 wakker geword en die twee hondjies uitgevat om ’n draai te loop.

“Ek het die hondjies uitgevat en weer in die bed geklim en aan die slaap geraak. Toe ek wakker skrik, was daar net vlamme in die kamer,” het ’n erg getraumatiseerde André aan Die Pos vertel.

Volgens André het hulle probeer om deur die agterdeur uit die huis te vlug, maar Henna het in die sitkamer geval. André het probeer om by haar uit te kom om haar op te help, maar is in die kombuis deur die rook oorval.

Dié Bybel was op die koffietafel in die sitkamer en het feitlik ongeskonde gebly nadat die Viljoen-egpaar van Mookgophong se huis Sondagnag 20 Junie in ’n brand verwoes is.

Liz Fourie, wat self bejaard is en in ’n woonstel met ’n grasdak agter in die erf woon, het intussen ’n man in die straat hoor skree.

“Ek het eers gedink hy is dronk en het my seun, Chris, wakker gemaak. Toe ek uitkyk, het ek die vlamme by die Viljoen-egpaar se slaapkamervenster gesien,” het sy vertel.

Chris en nog ’n inwoner van ’n ander woonstel op die erf, Alta Bossert, het die agterdeur oopgeskop en André en Henna na buite gesleep.

Volgens Bossert was hulle halfbewusteloos en Henna het brandwonde aan haar hande en gesig gehad.

Chris het dadelik vir Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die AfriForum-buurtwag, gebel en hy het op sy beurt die ambulans en brandweer ontbied.

Die brand het egter só vinnig versprei dat niks van die inhoud van die huis gered kon word nie.

Slegs ’n Bybel wat op die sitkamertafeltjie was waar hulle saans huisgodsdiens gehou het, het nie uitgebrand nie.

Slegs ’n paar porseleinkoppies het op ’n kombuisrak oorgebly nadat vernietigende vlamme die huisinhoud verswelg het.

Henna is per ambulans na die hospitaal in Modimolle geneem waar sy behandeling vir rookinaseming en brandwonde ontvang het.

André was baie ontsteld en het heeltyd trane in sy oë gekry as hy oor Henna en sy hondjies gepraat het. Die egpaar het die afgelope 21 jaar in 5de Straat 2 gewoon.

Marietjie de Lange, André se dogter, het van Mokopane gekom om haar ouers te ondersteun. Sy het haar pa vir eers saam met haar geneem.

Sy en haar pa het hul dank uitgespreek teenoor almal wat dadelik gehelp het om die vlamme te blus.

Hulle is in besonder dankbaar vir Fourie en Bossert wat nie gehuiwer het om hul eie lewens in gevaar te stel om die egpaar uit die vlamme te red nie.

Related Articles

Back to top button