Local newsNews

Polisie en gemeenskap gee om vir troeteldiere

Die polisie se Vroue Netwerk-tak in Modimolle het op Woensdag 9 Junie saam met die Modimolle Animal Welfare Centre (MAWEC) uitgereik na die plaaslike gemeenskap tydens ’n bewusmakingsveldtog in Uitbreiding 10 van die Phagameng-township in Modimolle.

Die doelwit van die veldtog was om honde-eienaars op te lei oor die versorging van hul troeteldiere en om diere te ondersoek vir siektes. Volgens kol. Lisa Vorster, voorsitter van die polisie se Vroue Netwerk-tak in Modimolle, is daar bykans 300 kg hondekosblokkies en 130 hondekomberse uitgedeel.

MAWEC se bekwame span, onder leiding van Cheryl Oosthuysen, het elke hond deeglik ondersoek vir vlooie, bosluise, siektes, oop wonde en beserings.

Sommige honde se naels is ook geknip. Elke hond is ’n dosis ontwurmingsmiddel toegedien en het ’n sakkie hondekos gekry. Daar is ook water- en kosbakke, asook leibande, uitgedeel. Alfred Dlamini, inspekteur van die Polokwane dierebeskermingsvereniging (DBV) het antibiotika vir siek honde toegedien.

Die Pos het met kol. Lisa Vorster gesels oor hul betrokkenheid by hierdie projek.

“Ek is ’n diereliefhebber met twee Jack Russels van my eie. Dit breek my hart om honde te sien wat swaarkry en mishandel word,” het sy gesê. “Dit is ook deel van misdaadvoorkoming, want dieremishandeling is ’n kriminele oortreding en kan ’n aanduiding wees van moontlike gesinsgeweld.”

Vorster, hoof van die Modimolle Polisie se ondersteuningsdienste, woon sedert 1991 in Modimolle en werk al die afgelope 34 jaar vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens Sy het aan Die Pos verduidelik dat lede self moet uitreik om geld in te samel vir sulke projekte.

Alle polisievroue neem deel aan die projekte wat die Vroue Netwerk-tak in hul omgewing aanpak en vanjaar het die Modimolle-tak besluit om op troeteldiere se welstand te fokus.

Vorster het gesê: “Ons wil almal bedank wat donasies gegee het.”

Daar word beoog om later vanjaar weer uit te reik in die gemeenskap en belangstellendes kan vir Vorster bel by tel. 082 565 8424.

Daar word veral gevra vir skenkings van hondekos, asook hals- en leibande vir honde. Die nie-wisgewende organisasie Modimolle Animal Welfare Centre (MAWEC) is in Maart vanjaar deur ’n groep diereliefhebbers gestig.

Hul fokus is op die opleiding van troeteldier-eienaars, asook die sterilisasie van huisdiere om moontlike verwaarlosing en mishandeling te voorkom.

Cheryl Oosthuysen het aan Die Pos gesê MAWEC maak staat op sakelui en lede van die publiek vir donasies om hierdie organisasie suksesvol te bedryf.

Hulle het sedert Maart vanjaar genoeg geld ingesamel om 17 troeteldiere by die Nylstroom en Kranskop Diereklinieke in Modimolle te laat steriliseer.

Sodra die plaaslike owerheid die sonering van hul perseel in Modimolle afgehandel het, kan hulle voortgaan om hokke te bou en die perseel in te rig.

Oosthuysen het verduidelik dat MAWEC hulp verleen aan almal in Modimolle. Daar word gebruik gemaak van die DBV se gekwalifiseerde diere-inspekteurs in Mokopane en Polokwane indien dit nodig is.

Oosthuysen het ook genoem dat hulle onafhanklik funksioneer en nie saam met ander dierewelsyns- of reddingorganisasies in Modimolle werk nie.

MAWEC se volgende gratis sterilisasiedag vind op Sondag 18 Julie in Modimolle, in samewerking met Pet Community Outreach (PCO) van Pretoria, plaas. Belangstellendes kan vir Cheryl Oosthuysen bel by tel. 084 506 8504 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button